Uitspraak in AfriForum-saak help skole teen munisipale boelies
Regsaksie van AfriForum teen die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit in Mei vanjaar blyk nou van nut vir skole in ander munisipale gebiede ook te wees. AfriForum het toe naamlik skole met regshulp bygestaan nadat hulle kragtoevoer onregverdig deur die Tshwane-metro afgesny is. Die voortspruitende hofbevel van 5 Mei 2026 het bepaal dat die munisipaliteit nie verder krag van enige skole weens die wanbetaling van eiendomsbelasting deur die provinsiale owerheid mag afsny nie. Toe die munisipaliteit in Junie weer met dié aksie begin, is hulle met ’n minagtingsaansoek gedreig en die skole se kragtoevoer is dadelik herstel.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, het dit nou onder dié organisasie se aandag gekom dat dit nie net skole in die Tshwane Metropolitaanse gebied is wat só deur munisipale owerhede geteiken word nie. Regsverteenwoordigers van skole in Johannesburg het AfriForum se regspan pas genader met ’n versoek dat die betrokke hofstukke en -bevel aan hulle gestuur word, aangesien hulle met ’n soortgelyke probleem in Johannesburg te kampe het en graag wil sien wat AfriForum se argumente en die uitspraak behels.
Soos AfriForum, beklemtoon die ander regspan in hulle skrywe die onregverdigheid daarvan dat owerhede die publiek oor die algemeen en skoolgemeenskappe in die besonder vir hulle eie onderlinge wanbestuur te na kom.
“Dit is teleurstellend om te verneem dat hierdie probleem nie uniek aan een metropolitaanse gebied is nie, maar elders ook voorkom,” meen Bailey. Sy nooi skole wat elders onder hierdie onregverdigbare boeliegedrag van munisipaliteite deurloop om met AfriForum in aanraking te kom. “Leerders se toegang tot veilige skoolterreine en gehalte onderrig mag nie weens swak interne betalingsreëlings van owerhede in die gedrang kom nie. AfriForum sal graag skole bystaan om hulle daarteen te beskerm,” sê sy.
Inligting oor sodanige onderbrekings van skole se elektrisiteitstoevoer kan gestuur word aan onderwys@afriforum.co.za.



