AfriForum waarsku departement teen voortsetting van Gautengse nommerplaatprojek

Louis Boshoff (Afrikaans)

AfriForum het vandag ’n prokureursbrief aan die Gautengse departement van Vervoer en die kantoor van die premier, Panyaza Lesufi, gerig waarin die organisasie aandring dat die uitrol van nuwe nommerplate gestaak word, totdat die Mededingingstribunaal se vervolging van drie nommerplaatvervaardigers voltooi is. Die burgerregteorganisasie waarsku verder dat hy ’n hofaansoek teen die departement sal bring indien daar nie ag gegee word op die eise in die brief nie.

AfriForum se prokureursbrief kom in reaksie op hernude gerugte dat die provinsiale regering van alle voertuigeienaars in Gauteng wil vereis dat hulle nuwe nommerplate vir hul voertuie moet aanskaf. Dít terwyl die Mededingingskommissie in Maart bevind het dat die land se enigste drie vervaardigers van blanko nommerplate ’n kartel gevorm het en saamspan om hoër pryse vas te stel.

Die Gautengse departement van Vervoer het in Junie verlede jaar ’n projek van stapel gestuur waarin nuut ontwerpte nommerplate op al die provinsie se vlootvoertuie aangebring is. Volgens aanvanklike beplanning moes dié projek ná ses maande na alle privaat voertuie in die provinsie uitgebrei word. Nadat dit aan die lig gekom het dat die pryse van nommerplate uitermate hoog is vanweë samespanning in die bedryf, wou AfriForum weet of die Gautengse departement dit in ag neem en die projek gaan uitstel. Ná verskeie navrae kon AfriForum geen bevestiging van die departement in hierdie verband kry nie en is die organisasie genoop om nou ’n prokureursbrief te rig.

Volgens Louis Boshoff, woordvoerder van AfriForum, is dit vanselfsprekend dat die departement nie moet voortgaan om van voertuigeienaars te verwag om nuwe nommerplate te koop, terwyl dit bekend is dat die plate teen pryse bo markwaarde verkoop word nie. “Dit is teleurstellend dat AfriForum met regsaksie moet dreig omdat die departement nie bereid is om ’n eenvoudige voorneme aan te gaan nie.”

Die projek om nuwe nommerplate vir Gauteng uit te rol is van die begin af in omstredenheid gehul nadat die provinsiale regering verlede jaar aangedui het dat hulle geen kosteberaming vir die nuwe nommerplate kan voorsien nie. Die departement kon in reaksie op ’n aansoek van AfriForum ingevolge die Wet op Toegang tot Bevordering van Inligting (PAIA) ook geen aanduiding voorsien van hoe lank voertuigeienaars tyd sal hê om die nuwe nommerplate aan te skaf nie.

“Alles dui tans daarop dat dit beter is om die projek eers op ys te plaas. AfriForum sal alles in die stryd werp om te keer dat Gautengse voertuigeienaars nou duisende rand elk moet spandeer om onredelik duur nommerplate aan te skaf,” sluit Boshoff af.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik