| |

Nie één vullisterrein in Nelson Mandelabaai-metro op standaard, terwyl agteruitgang in Kouga-munisipaliteit spoed optrel, toon AfriForum-oudit

Nie één van die vyf munisipale vullisterreine en oorlaaistasies wat AfriForum vanjaar as deel van sy vullisterreinoudit in die Nelson Mandelabaai Metropolitaanse Munisipaliteit getoets het, voldoen aan die minimum vereistes van verantwoordelike afvalbestuur nie. Dié terreine kon boonop ’n gemiddelde nakomingspunt van skaars 42% bymekaarskraap. Benewens dié metro se swak prestasie wys AfriForum se oudit vanjaar ook daarop dat die agteruitgang by vullisterreine in die naburige Kouga Plaaslike Munisipaliteit nou spoed optel.

Die Roundhill-vullisterrein in KuGompo-stad (voorheen Oos-Londen) in die Buffalo City Metropolitaanse Munisipaliteit, is enigste vullisterreine in die provinsie wat vanjaar se oudit geslaag het. Dié terrein het vanjaar ietwat teruggesak na ’n gemiddelde nakomingspunt van 96%, nadat dit verlede jaar aan 100% van die vereistes voldoen het. Die verbetering in die bestuur van Roundhill is veral merkwaardig as in berekening gebring word dat die terrein vier jaar gelede, in 2023, ’n nakomingspunt van net 64% kon aanteken. Bestuur van die terrein het sedertdien aansienlik verbeter en is vanjaar een van die top-terreine in die land.

Louis van der Vyver, AfriForum se distrikskoordineerder vir die Oos-Kaap waarsku egter dat die Roundill-terrein die uitsondering in dié provinsie is. “Een swaeltjie maak nie ’n somer nie – en in die Oos-Kaap is dit veral die geval. Die provinsie kon ondanks Roundhill se uitsonderlike prestasie slegs ’n gemiddelde nakomingspunt van 55% kry. Indien Roundhill buite rekening gelaat sou word, sou die ander agt terreine wat in die provinsie geoudit is, nie eens daarin slaag om ’n gesamentlike nakomingspunt van 50% te maak nie,” verduidelik hy.

Van der Vyver benadruk dat die swak vullisterreinbestuur in die Nelson Mandela-metro, die grootste metro in die provinsie en die tuiste van nagenoeg 1,2 miljoen mense, veral kommer wek. Die terreine in dié metro wat geoudit is, is die Arlington-vullisterrein in Gqeberha (voorheen Port Elizabeth) sowel as die Gillespie-, Rosedale en Hillwacht-oorlaaistasies en die Koedoeskloof-vullisterrein in Kariega (voorheen Uitenhage).

In die Kouga-munisipaliteit het die Hankey- en die Humansdorp-vullisterreine vanjaar swakker gevaar as in 2025. Die Humansdorp-terrein, wat verlede jaar die oudit geslaag het, het vanjaar 15% swakker gevaar en kon slegs ’n nakomingspunt van 68% aanteken.

AfriForum se Vullisterreinoudit-verslag wat onlangs vrygestel is, toon voorts dat die Oos-Kaap se terreine vanjaar ’n gemiddelde nakomingspunt van slegs 55% kon haal, net-net swakker as die KwaZulu-Natal wat ’n nakomingspunt van 56% aangeteken het. Vullisterreine in die Wes-Kaap en Gauteng het vanjaar die beste presteer, met die Wes-Kaap wat ’n gemiddelde nakomingspunt van 66% behaal het, terwyl Gauteng 64% aangeteken het.

AfriForum het vanjaar 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies geoudit, maar slegs 30 terreine, oftewel 23% hiervan, het aan minstens 80% van die vereistes van die oudit voldoen. Dit dui daarop dat gemiddeld van nagenoeg agt uit elke tien terreine landwyd ernstige tekortkominge in infrastruktuur, operasionele bestuur of nakoming van basiese vereistes toon.

Die volgende vier terreine kon nie eens ’n gemiddelde nakomingspunt van 50% haal nie (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):

  • Hankey-vullisterrein, Kouga Plaaslike Munisipaliteit (44)
  • Arlington-vullisterrein, Nelson Mandelabaai-metro (44)
  • Hillwacht-oorlaaistasie, Nelson Mandelabaai-metro (30)
  • Koedoeskloof-vullisterrein, Nelson Mandelabaai-metro (36)

“Doeltreffende afvalbestuur is ononderhandelbaar en ’n saak wat wydlopende impak het om mense en die omgewing. Daar is nie meer tyd vir verskonings nie – die munisipaliteite se swak prestasie in dié oudit wys reeds dat daar afgestuur word op ’n ramp,” sluit Van der Vyver af.

AfriForum het sy verslag vroeër vandeesmaand oorhandig aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) in Pretoria. Die burgerregteorganisasie sal intussen voortgaan om munisipale vullisterreine jaarliks te moniteer en met owerhede, rolspelers in die bedryf en gemeenskappe in gesprek te tree oor praktiese oplossings vir die land se afvalbestuursuitdagings. Die organisasie moedig gemeenskappe ook aan om aktief betrokke te raak by verantwoordelike afvalbestuur, herwinning en plaaslike inisiatiewe wat die hoeveelheid afval wat na vullisterreine gestuur word, verminder.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid, Magsmisbruik