Slegs 6% van vullisterreine in die Vrystaat op standaard, toon AfriForum-oudit
Slegs 6% van vullisterreine en oorlaaistasies wat AfriForum vanjaar as deel van sy vullisterreinoudit in die Vrystaat getoets het – oftewel een uit 17 terreine wat geoudit is –voldoen aan die minimum vereistes van verantwoordelike afvalbestuur. Dié terreine kon boonop ’n gemiddelde nakomingspunt van skaars 19% bymekaarskraap. Benewens oorhoofse swak prestasie wys AfriForum se oudit vanjaar ook daarop dat slegs twee terreine in dié provinsie ’n nakomingspunt van 50% kon haal.
Die enigste terrein in die Vrystaat wat vanjaar aan die ouditvereistes voldoen het, is die Bethlehem-vullisterrein in die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit. Hierdie terrein het oor die afgelope vyf jaar uitsonderlike verbetering getoon, en vanaf ’n nakomingspunt van slegs 18% in 2022 daarin geslaag om vanjaar ’n nakomingspunt van 88% aan te teken.
Hierdie verbetering toon volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekshoof vir die sentraalstreek, dat ’n ommekeer in vullisterreine se nakoming van vereistes haalbaar is.
“Die Vrystaat het vanjaar, soos vorige jare weer power gevaar en naas die Noord-Kaap die swakste gemiddelde nakomingspunt aangeteken. Daadwerklike optrede in hierdie provinsie is nou noodsaaklik om die impak van swak vullisterreinbestuur te halt en om te keer. Doeltreffende afvalbestuur is ononderhandelbaar en ’n saak wat wydlopende impak het om mense en die omgewing. Daar is nie meer tyd vir verskonings nie – die Vrystaatse munisipaliteite se swak prestasie in dié oudit wys reeds dat daar afgestuur word op ’n ramp,” benadruk Grobbelaar.
AfriForum het vanjaar 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies geoudit, maar slegs 30 terreine, oftewel 23% hiervan, het aan minstens 80% van die vereistes van die oudit voldoen. Dit dui daarop dat gemiddeld van nagenoeg agt uit elke tien terreine landwyd ernstige tekortkominge in infrastruktuur, operasionele bestuur of nakoming van basiese vereistes toon. Vullisterreine in die Wes-Kaap en Gauteng het vanjaar die beste presteer, met die Wes-Kaap wat ’n gemiddelde nakomingspunt van 66% behaal het, terwyl Gauteng 64% aangeteken het.
’n Totaal van 12 vullisterreine in die Vrystaat kon vanjaar nie eens ’n gemiddelde nakomingspunt van 20% haal nie. Dié terreine is (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):
- Bloemfontein-Suid-vullisterrein, Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit (18)
- Bultfontein-vullisterrein, Tswelopele Plaaslike Munisipaliteit (18)
- Kroonstad-vullisterrein, Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit (18)
- Sasolburg-vullisterrein, Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit (10)
- Parys-vullisterrein, Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit (10)
- Frankfort-vullisterrein, Mafube Plaaslike Munisipaliteit (6)
- Viljoenskroon-vullisterrein, Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit (6)
- Bothaville-vullisterrein, Nala Plaaslike Munisipaliteit (4)
- Winburg-vullisterrein, Masilonyana Plaaslike Munisipaliteit (2)
- Zastron-vullisterrein, Mohokare Plaaslike Munisipaliteit (2)
- Deneysville-vullisterrein, Metsimaholo Plaaslike Munisipaliteit (0)
- Heilbron-vullisterrein, Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit (0)
Uit dié 12 terreine het nege terreine se nakomingspunt boonop vanaf 2025 verswak. Die Winburg- en Zastron-terreine is egter nie verlede jaar geoudit nie en die Kroonstad-terrein se nakomingspunt het onveranderd gebly.
AfriForum het sy verslag vroeër vandeesmaand oorhandig aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) in Pretoria. Die burgerregteorganisasie sal intussen voortgaan om munisipale vullisterreine jaarliks te moniteer en met owerhede, rolspelers in die bedryf en gemeenskappe in gesprek te tree oor praktiese oplossings vir die land se afvalbestuursuitdagings. Die organisasie moedig gemeenskappe ook aan om aktief betrokke te raak by verantwoordelike afvalbestuur, herwinning en plaaslike inisiatiewe wat die hoeveelheid afval wat na vullisterreine gestuur word, verminder.



