Slegs 26% van vullisterreine in Noordwes op standaard, toon AfriForum-oudit
Slegs 26%, oftewel vyf uit die 19 vullisterreine en oorlaaistasies wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit in Noordwes geoudit is, voldoen aan die minimum vereistes van verantwoordelike afvalbestuur. Die terreine wat vanjaar se oudit geslaag het, is die Hartebeesfontein-vullisterrein in die Madibeng Plaaslike Munisipaliteit, die Mooinooi-terrein wat privaat bedryf word deur Interwaste, die Felophepa-vullisterrein in Potchefstroom in die Tlokwe Plaaslike Munisipaliteit, die Waterval-vullisterrein in die Rustenburg Plaaslike Munisipaliteit en die Vryburg-vullisterrein in die Naledi Plaaslike Munisipaliteit.
Die Felophepa-vullisterrein het vanjaar noemenswaardig beter presteer as die vorige twee jare en vir die eerste keer sedert 2023 die oudit geslaag met ’n nakomingspunt van 92%. Dié terrein kon in 2024 en 2025 onderskeidelik net 52% en 50% in dié oudit aanteken.
Volgens Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier-gebied, is hierdie Potchefstroomse vullisterrein se prestasie ’n bevestiging dat agteruitgang van ’n kritieke munisipale diens gekeer en in ’n suksesverhaal omskep kan word. “Hierdie terrein het in 2022 en 2023 die AfriForum-oudit geslaag en ná twee jaar se powere prestasie dit reggekry om die terrein se nakoming vir verantwoordelike afvalbestuur reg te ruk. Tyd sal leer of hierdie verbetering volhoubaar voortgesit sal word, maar AfriForum sal dit noukeurig moniteer en uitkyk vir enige probleme wat mag opduik,” benadruk Pretorius.
Ondanks die sukses van terreine soos dié en die Vryburg-vullisterrein – wat in 2024 en 2025 ’n nakomingspunt van onderskeidelik 48% en 74% aangeteken het, en vanjaar die oudit vir die eerste keer kon slaag – vaar die provinsie steeds uiters swak. Noordwes het vanjaar, naas die Vrystaat en die Noord-Kaap die swakste gevaar, en kon net ’n gemiddelde nakomingspunt van 40% aanteken. Die Vrystaat het vanjaar ’n gemiddelde nakomingspunt van 19% aangeteken, terwyl die Noord-Kaap net 14% kon bymekaarskraap.
Die Wes-Kaap het vanjaar bo-aan dié oudit se punteleer geval, met ’n gemiddelde nakomingspunt van 66%, terwyl Gauteng naasbeste gevaar het met ’n gemiddelde nakomingspunt 64%.
AfriForum het vanjaar 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies geoudit, maar slegs 30 terreine, oftewel 23% hiervan, het aan minstens 80% van die vereistes van die oudit voldoen. Dit dui daarop dat gemiddeld van nagenoeg agt uit elke tien terreine landwyd ernstige tekortkominge in infrastruktuur, operasionele bestuur of nakoming van basiese vereistes toon.
Volgens AfriForum se Vullisterreinoudit-verslag wat pas bekendgestel is, het terreine in Noordwes – ondanks hul oorhoofse swak prestasie – tog op verlede jaar se rekord verbeter en die gemiddelde provinsiale nakomingspunt van 33% in 2022, opgestoot na 40% in 2026.
Uit die 19 vullisterreine wat in Noordwes geoudit is, kon die volgende ses terreine egter nie eens ’n nakomingspunt van 20% haal nie (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):
- Swartruggens-vullisterrein, Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit (0)
- Lichtenburg-vullisterrein, Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit (2)
- Ventersdorp-vullisterrein, JB Marks Plaaslike Munisipaliteit (6)
- Koster-vullisterrein, Kgetlengrivier Plaaslike Munisipaliteit (6)
- Coligny-vullisterrein, Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit (16)
- Sannieshof-vullisterrein, Tswaing Plaaslike Munisipaliteit (18)
Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Marico-distrik, verduidelik dat die Tswaing- en die Kgetlengrivier-munisipaliteite vanjaar hul jare lange swak prestasie voortgesit het.
Uit die twee terreine wat in die Tswaing-munisipaliteit geoudit is, naamlik die Delareyville- en die Sannieshof-vullisterreine, kon daar net ’n gemiddelde nakomingspunt van 19% aangeteken word. Die situasie in die Kgetlengrivier-munisipaliteit is selfs meer beroerd. Tussen die twee terreine wat hier geoudit is (in Koster en Swartruggens) kon slegs ’n gemiddelde nakomingspunt van 3% aangeteken word.
“Hierdie powere prestasie strook met die breër verval en volgehoue swak dienslewering wat reeds jare lank in hierdie twee munisipaliteite aangeteken word,” verduidelik Viljoen. “Good Governance Africa se 2024-indeks wat die prestasie van die hele land se munisipaliteite gemeet het, plaas die Tswaing- en Kgetlengrivier-munisipaliteite in onderskeidelik die 182ste en 184ste plek uit 205 munisipaliteite landwyd. Hierdie ranglysplasing bevestig dus dat dit wat AfriForum se vullisterreinoudit ten opsigte van vullisterreine in hierdie munisipaliteite wys, ook waar is vir ander elemente van dienslewering en munisipale bestuur in die Tswaing- en Kgetlengrivier-munisipaliteite.”
“Doeltreffende afvalbestuur is ononderhandelbaar en ’n saak wat wydlopende impak het op mense en die omgewing. Daar is nie meer tyd vir verskonings nie – die munisipaliteite se swak prestasie in dié oudit wys reeds dat daar afgestuur word op ’n ramp,” sluit Pretorius af.
AfriForum het sy verslag vroeër vandeesmaand oorhandig aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) in Pretoria. Die burgerregteorganisasie sal intussen voortgaan om munisipale vullisterreine jaarliks te moniteer en met owerhede, rolspelers in die bedryf en gemeenskappe in gesprek te tree oor praktiese oplossings vir die land se afvalbestuursuitdagings. Die organisasie moedig gemeenskappe ook aan om aktief betrokke te raak by verantwoordelike afvalbestuur, herwinning en plaaslike inisiatiewe wat die hoeveelheid afval wat na vullisterreine gestuur word, verminder.



