Nie een Noord-Kaapse vullisterrein op standaard, toon AfriForum-oudit
Nie één van die ses vullisterreine wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit in die Noord-Kaap geoudit is, voldoen aan die minimum vereistes van verantwoordelike afvalbestuur nie. Dié powere prestasie het vanjaar aan die Noord-Kaap die onbenydenswaardige titel van swakste provinsie in die land ten opsigte van vullisterreine besorg. Die provinsie se prestasierekord in AfriForum se vullisoudit bevestig ernstige verval, met slegs drie terreine wat dié oudit in die afgelope vyf jaar kon slaag. In dié tydperk is 87 oudits by 26 verskillende vullisterreine gedoen.
AfriForum se Vullisterreinoudit-verslag wat onlangs vrygestel is, toon voorts dat die Noord-Kaap se terreine vanjaar ’n gemiddelde nakomingspunt van slegs 14% kon haal, net-net swakker as die Vrystaat wat ’n nakomingspunt van 19% aangeteken het. Vullisterreine in die Wes-Kaap en Gauteng het vanjaar die beste presteer, met die Wes-Kaap wat ’n gemiddelde nakomingspunt van 66% behaal het, terwyl Gauteng 64% aangeteken het.
AfriForum het vanjaar 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies geoudit, maar slegs 30 terreine, oftewel 23% hiervan, het aan minstens 80% van die vereistes van die oudit voldoen. Dit dui daarop dat gemiddeld van nagenoeg agt uit elke tien terreine landwyd ernstige tekortkominge in infrastruktuur, operasionele bestuur of nakoming van basiese vereistes toon.
Volgens AfriForum se Vullisterreinoudit-verslag kon nie een van die se terreine wat vanjaar in die Noord-Kaap geoudit is, eens ’n nakomingspunt van meer as 22% bymekaarskraap nie.
Die provinsie se resultate lyk soos volg (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):
- Delportshoop-vullisterrein, Dikgatlong Plaaslike Munisipaliteit (22)
- Kakamas-vullisterrein, Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit (2)
- Keimoes-vullisterrein, Kai !Garib Plaaslike Munisipaliteit (8)
- Prieska-vullisterrein, Siyathemba Plaaslike Munisipaliteit (18)
- Springbok-vullisterrein, Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit (0)
- Upington-vullisterrein, Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit (32)
Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir dié provinsie, meen die Noord-Kaap se vrot prestasie dui op ernstige, sistemiese verval in plaaslike regering. “Die verval is op verskeie vlakke sigbaar, en AfriForum se vullisoudit bevestig dat afvalbestuur ook onder dieselfde juk gebuk gaan as ander dienste in die provinsie,” verduidelik hy.
Hy hou ook vol dat die Noord-Kaap se skaars natuurlike hulpbronne bedreig word deur die swak bestuur van vullisterreine en dat die besoedeling van grondwater. Voorts hou die verspreiding van vullis – weens swak terreinbestuur – direkte gevolge in vir ekonomiese bedrywighede in dié droë provinsie, insluitend landbou, veeboerdery en ekotoerisme.
“Doeltreffende afvalbestuur is ononderhandelbaar en ’n saak wat wydlopende impak het om mense en die omgewing. Daar is nie meer tyd vir verskonings nie – die munisipaliteite se swak prestasie in dié oudit wys reeds dat daar afgestuur word op ’n ramp,” sluit Strauss af.



