Slegs 11% van vullisterreine in Mpumalanga op standaard, toon AfriForum-oudit
Slegs 11%, oftewel twee uit die 19 vullisterreine en oorlaaistasies wat vanjaar as deel van AfriForum se jaarlikse vullisterreinoudit in Mpumalanga geoudit is, voldoen aan die minimum vereistes van verantwoordelike afvalbestuur. Dié twee terreine – die Hendrina-oorlaaistasie in die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit en die Witrivier-oorlaaistasie in die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit – se sukses word egter oorskadu deur die swak prestasie van die ander terreine in die provinsie wat ’n gemiddelde nakomingspunt van slegs 42% kon bymekaarskraap.
Volgens Hennie Bekker, AfriForum se streekshoof vir Limpopo en Mpumalanga, is vanjaar se provinsiale nakomingspunt wel beter as in 2025, toe ’n nakomingspunt van 39% aangeteken is.
AfriForum se Vullisterreinoudit-verslag toon voorts dat Mpumalanga se terreine vanjaar ’n gemiddelde nakomingspunt van 42%, daarop dui dat die standaard van nakoming van vullisterreine in die provinsie van die swakste in die land is. Mpumalanga kon net-net beter vaar as die drie provinsies wat vanjaar die swakste gevaar het, naamlik Noordwes, Vrystaat en Noord-Kaap wat onderskeidelik gemiddelde nakomingspunte van slegs 40%, 19% en 14% kon haal.
Die Wes-Kaap, met ’n gemiddelde nakomingspunt van 66%, het vanjaar die beste gevaar, met ’n gemiddelde nakomingspunt van 66%, terwyl Gauteng kort op dié provinsie se hakke is met 64%.
AfriForum het vanjaar 132 vullisterreine en oorlaaistasies in al nege provinsies geoudit, maar slegs 30 terreine, oftewel 23% hiervan, het aan minstens 80% van die vereistes van die oudit voldoen. Dit dui daarop dat gemiddeld van nagenoeg agt uit elke tien terreine landwyd ernstige tekortkominge in infrastruktuur, operasionele bestuur of nakoming van basiese vereistes toon.
Volgens AfriForum se Vullisterreinoudit-verslag wat pas bekendgestel is, het terreine in die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit, waar vanjaar vier terreine geoudit is, veral swak gevaar. Nie een van dié terreine kon ’n nakomingspunt van meer as 60% aanteken nie.
Uit die 19 vullisterreine wat in Mpumalanga geoudit is, het die volgende sewe terreine almal 30% of minder as nakomingspunt aangeteken (die nakomingspunt is in hakkies aangedui):
- Morgenzon-vullisterrein, Lekwa Plaaslike Munisipaliteit (0)
- eNtokozweni-vullisterrein, Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit (2)
- Volksrust-vullisterrein, Dr. Pixley Ka Isaka Seme Plaaslike Munisipaliteit (8)
- eMakhazeni-vullisterrein, Emakhazeni Plaaslike Munisipaliteit (18)
- Mashishing-vullisterrein, Thaba Chweu Plaaslike Munisipaliteit (20)
- Delmas-vullisterrein, Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (22)
- eMalahleni-vullisterrein, Emalahleni Plaaslike Munisipaliteit (30)
Hoewel die provinsie se terreine vanjaar ietwat beter presteer het as in vorige jare, meen Bekker dat die verval, agteruitgang en mislukking in die provinsie se vullisterreine duidelik bly en geensins prysenswaardig is nie. “Mpumalanga het in 2025 ’n gemiddelde nakomingspunt van 39% aangeteken en dus vanjaar byna 8% beter gevaar. Ondanks dié verbetering voldoen die meerderheid van terreine in Mpumalanga egter steeds nie aan die basiese vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur nie. Doeltreffende afvalbestuur is ononderhandelbaar en ’n saak wat wydlopende impak het om mense en die omgewing. Daar is nie meer tyd vir verskonings nie – die munisipaliteite se swak prestasie in dié oudit wys reeds dat daar afgestuur word op ’n ramp,” verduidelik Bekker.
AfriForum het sy verslag vroeër vandeesmaand oorhandig aan die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing (DFFE) in Pretoria. Die burgerregteorganisasie sal intussen voortgaan om munisipale vullisterreine jaarliks te moniteer en met owerhede, rolspelers in die bedryf en gemeenskappe in gesprek te tree oor praktiese oplossings vir die land se afvalbestuursuitdagings. Die organisasie moedig gemeenskappe ook aan om aktief betrokke te raak by verantwoordelike afvalbestuur, herwinning en plaaslike inisiatiewe wat die hoeveelheid afval wat na vullisterreine gestuur word, verminder.



