|

Roekelose gebruik van vuurwapens kan nie genormaliseer word nie – AfriForum ná adjunkburgemeester glo vuurwapen afvuur

AfriForum sê dit is onaanvaarbaar vir individue in leiersposisies, wat veronderstel is om die oppergesag van die reg te handhaaf, om beide die wet e basiese vuurwapenveiligheidsbeginsels te ondermyn. Dit volg ná die adjunkburgemeester van die Bitou Plaaslike Munisipaliteit, Nokuzola Kolwapi, glo sy vuurwapen in die openbaar gerig en afgevuur het gedurende ’n familiebyeenkoms in Kwanokuthula buite Plettenbergbaai.

’n Video van die voorval, wat wyd op sosiale media versprei is, wek ernstige kommer oor die onmiddellike veiligheid van diegene teenwoordig en oor die breër boodskap wat sulke gedrag deur ’n openbare verteenwoordiger aan die samelewing in die algemeen stuur.

“Wanneer politieke en munisipale leiers roekeloos met vuurwapens omgaan, normaliseer dit gevaarlike gedrag en stuur dit ’n duidelike boodskap aan gewone burgers dat die wet opsioneel is. Dit is presies die tipe gedrag wat ’n kultuur van wetteloosheid aanvuur,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

AfriForum verwelkom die bevestiging dat ’n strafregtelike saak aanhangig gemaak is en doen ’n beroep op die Suid-Afrikaanse Polisiediens om ’n deeglike, onafhanklike ondersoek sonder politieke inmenging te doen. Indien die bewerings gestaaf word, moet die volle mag van die wet sonder uitsondering toegepas word.

AfriForum wys daarop dat hierdie voorval volg kort na die skuldigbevinding van EFF-leier Julius Malema in Oktober vanjaar op ’n soortgelyke aanklag, nadat hy in 2018 ’n vuurwapen in die openbaar afgevuur het. Volgens AfriForum beklemtoon dit ’n kommerwekkende patroon van minagting vir die wet onder politieke leiers, ten spyte van ’n duidelike regspresedent en bestaande wetgewing.

“Die feit dat senior politieke figure reeds vir dieselfde tipe gedrag skuldig bevind is, en dat ander openbare verteenwoordigers steeds op hierdie roekelose wyse optree, toon hoe min respek daar in sekere kringe vir die oppergesag van die reg is,” voeg Broodryk by.

Terwyl die Bitou-munisipaliteit verklaar het dat die geleentheid ’n private Umgidi-viering was, beklemtoon AfriForum dat die rig of afvuur van ’n vuurwapen – hetsy in ’n openbare of private omgewing – streng deur die wet gereguleer word en nooit ligtelik opgeneem kan word nie.

“Openbare vertroue in die regstelsel word verder ondermyn wanneer leiers nie aanspreeklik gehou word vir hul optrede nie. Die wet moet gelyk op almal van toepassing wees – ongeag posisie, politieke affiliasie of status,” sluit Broodryk af.

Soortgelyke plasings

Veiligheid