|

Munisipaliteit se stilswye oor soneringskwessie in Florapark laat talle vrae – AfriForum

Die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit se skynbare gebrek aan billike openbare deelname en deursigtigheid met betrekking tot kwessies wat ’n hele gemeenskap raak, het AfriForum genoop om in te gryp. Die burgerregteorganisasie het dié munisipaliteit genader oor sy oënskynlike versuim om ingevolge sy eie verordeninge ondersoek in te stel na ’n vermeende soneringskwessie. Dit volg ná bykans 500 inwoners beswaar aangeteken het teen die bedrywighede van ’n onderneming in die Florapark-woonbuurt. Intussen blyk dit dat die munisipaliteit hom skynbaar doof hou vir dié besware.

Ondanks gemeenskapslede se skriftelike versoeke aan die munisipaliteit om die goedkeurings vir ’n onderneming – wat vanuit ’n woonhuis bedryf word – te heroorweeg, het die munisipaliteit nog geen terugvoer oor die kwessie verskaf nie. Inwoners voer aan dat die munisipaliteit ook die regte en bekommernisse van die omliggende inwoners, asook die impak wat die bedrywighede op die woonbuurt het, in ag moet neem voor die onderneming sy deure oopgemaak het.

Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Noord-Kaap, voer aan dat die munisipaliteit se versuim om duidelikheid te gee oor ’n kwessie wat in die openbare belang is, die publiek se vertroue in plaaslike regering ondermyn.

Volgens AfriForum laat die munisipaliteit se gebrek aan deursigtigheid ernstige vrae ontstaan oor die toepassing van sy eie verordeninge. Die Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur (SPLUMA)-verordening bepaal onder meer dat ’n persoon wat geraak word deur ’n beweerde oortreding van hierdie verordening die munisipaliteit skriftelik kan versoek om die beweerde oortreding te ondersoek en ingevolge hierdie verordening op te tree.

“Die saak handel dus nie bloot oor net een onderneming wat in ’n woonbuurt begin is nie, maar oor inwoners se reg om deel te wees van besluite wat hul buurt raak. Gemeenskappe is volgens wet daarop geregtig om vertoë oor ’n saak te rig en hul plaaslike regering moet dan elke vertoë met die nodige erns hanteer,” sê Strauss.

AfriForum het daarom in ’n skrywe aan die munisipaliteit versoek om terugvoer aan die gemeenskap te gee en ingevolge die betrokke verordening ’n ondersoek van stapel te stuur.

“Die inwoners van Florapark vra nie vir spesiale behandeling nie, maar bloot dat die munisipaliteit sy eie verordeninge toepas en die publiek verantwoordbaar inlig oor die proses wat gevolg is,” voeg Strauss by.

AfriForum beklemtoon dat deursigtige en wettige administratiewe prosesse noodsaaklik is om die integriteit van plaaslike regering te beskerm en die vertroue van inwoners te behou. Die organisasie sal voortgaan om namens die gemeenskap op te tree totdat daar volle deursigtigheid en aanspreeklikheid is.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik