| | |

Slagoffer van kinderverkragting en getuies wag in hof – landdros woon eerder welstandseminaar by

Klankgreep: Barry Bateman (Afrikaans)
Klankgreep: Barry Bateman (Engels)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid meen dat dit blyk of die landdros in ’n kinderverkragtingsaak, ’n welstandseminaar as belangriker ag as die saak van ’n ma en stiefpa wat daarvan beskuldig word dat hulle seksuele misdrywe teen die vrou se dogter gepleeg het toe sy slegs vyf jaar oud was. Landdros Dube het versuim om gister (23 Julie) in die Brits Landdroshof op te daag weens die “onvoorsiene omstandighede” om ’n geleentheid in Rustenburg by te woon. Intussen was die jong meisie en al die getuies teenwoordig vir die hofsaak om te begin. Die saak was vir twee dae op die rol geplaas.

Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig die meisie en haar pleegouers, en het verseker dat die saak op die rol geplaas word ná die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik nie sou vervolg nie. Klagtes van verkragting, seksuele aanranding en versuim om onmiddellik ’n seksuele misdryf teen ’n kind aan te meld staar die twee beskuldigdes in die gesig. Die oortredings het na bewering in 2018 plaasgevind.

Hierdie saak is tot dusver oorlaai met vertragings. Op twee vorige geleenthede was die saak uitgestel aangesien of ’n tolk of ’n tussenganger nie beskikbaar was nie. Op ’n ander geleentheid is die saak uitgestel nadat die landdros klaarblyklik probleme met haar voertuig gehad het en nie die hofverrigtinge kon bywoon nie. Nie een van die partye, insluitend die beskuldigdes, is meegedeel dat die landdros ’n welstandseminaar gaan bywoon wat die voortsetting van hofverrigtinge sou belemmer nie.

“Die strafregstelsel het werklik inmekaargestort as die regsprekende gesag toelaat dat die welstand van voorsittende beamptes voorkeur geniet bo die welstand van die mees weerlose lede van die samelewing,” sê Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

“Dit is ’n skokkende aanklag teen die strafregstelsel en ’n mislukking om te verseker dat die beste belange van ’n kind die allerbelangrikste oorweging bly. Elke keer as hierdie saak op die rol geplaas word herleef hierdie meisie haar beproewing van voor af wanneer sy voorberei om te getuig. Sy is vir jare aan sekondêre trauma blootgestel terwyl die stelsel wat haar moet beskerm voortgaan om voete te sleep, skynbaar nie geïnteresseerd daarin om haar te help om hierdie traumatiese hoofstuk van haar lewe af te sluit en haar toe te laat om net ’n kind te wees nie,” sê Bateman.

Die privaatvervolgingseenheid gaan nie die identiteit van die beskuldigdes bekendmaak nie ter wille van die beskerming van die meisie se identiteit. Die oortredings het na bewering plaasgevind toe sy maar net vyf jaar oud was en die dossier is kort daarna geopen. Sy is nou 14-jaar oud en ’n dinamiese tiener in die sorg van haar pleegouers wat die privaatvervolgingseenheid genader het ná die NVG aanvanklik besluit het om nie te vervolg nie. Die saak is uiteindelik in Julie verlede jaar op die rol geplaas ná die privaatvervolgingseenheid toegetree het, en was aanvanklik vir 16 Februarie vanjaar op die rol geplaas. Dit is egter toe tot Mei uitgestel, toe tot gister, en nou tot November.

Die privaatvervolgingseenheid sal ’n skrywe aan die president van die Streekshof asook die Landdros Kommissie rig om amptelik kommer oor die behandeling van ’n kinderslagoffer van ’n afskuwelike misdaad en herhaalde vertragings in die saak uit te lig.

Die saak is na 25 en 26 November uitgestel.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik