Moordsyfers bevestig regering se motiewe vir strenger vuurwapenbeheer is ideologies gemotiveerd – AfriForum
Firoz Cachalia, waarnemende minister van Polisie, se antwoord op ’n vraag in die parlement bevestig dat die oorgrote meerderheid van moorde met vuurwapens in die land gepleeg word met ongelisensieerde vuurwapens. AfriForum meen dié feite bevestig opnuut dat die regering se benadering tot selfs strenger wetgewing om strawwer vuurwapenbeheer op wetsgehoorsame vuurwapeneienaars af te dwing, ideologies gemotiveerd is en nie aan die hand van feite regverdig kan word nie.
Cachalia het in reaksie op ’n vraag van Wouter Wessels, VF Plus-LP, aangevoer dat 9 398 mense in die 2025/2026-boekjaar met vuurwapens vermoor is. Slegs 75 hiervan, oftewel 0,8% van moorde is gepleeg deur die wettige eienaar van ’n wettig gelisensieerde vuurwapen, terwyl onwettige vuurwapens in dieselfde tydperk in 9 323 (oftewel 99,2%) van alle vuurwapenmoorde gebruik is.
Luidens Cachalia se antwoord is onwettige vuurwapens gebruik in 98,88% van vuurwapenmoorde in 2022/2023; 99,19% van dié moorde in 2023/2024; en in 98,98% van vuurwapenmoorde in 2024/2025.
Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, toon dié syfers onteenseglik dat die krisis ten opsigte van moorde wat met vuurwapens gepleeg word, deur onwettige vuurwapenbesit aangevuur word. Ondanks dié feit word wettige vuurwapeneienaars steeds geteiken deur middel van strenger wetgewing.
“Die syfers weerlê die argument dat strenger beperkings op wetsgehoorsame vuurwapeneienaars die antwoord op die land se geweldsmisdaad is,” verduidelik Broodryk. “As die regering werklik geweldsmisdaad wil bekamp en lewens wil red, behoort die bekamping van onwettige vuurwapenbesit, georganiseerde misdaad, vuurwapensmokkelary, vuurwapendiefstal en korrupsie binne die staatsdiens geprioritiseer te word. Die ideale van misdaadbekamping gaan nie bereik word deur die implementering van nóg regulatoriese laste op verantwoordelike burgers wat reeds aan streng bevoegdheids- en lisensiëringsvereistes voldoen nie.”
Die syfers wat Cachalia voorsien het, bevestig boonop dat vuurwapens wat oorspronklik aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en die Metropolisie behoort het, in die 2025/2026-boekjaar in 46 moorde gebruik is.
Dit dui volgens Broodryk op ’n ernstige versuim deur die staat om sy eie vuurwapens te beveilig, terwyl daar terselfdertyd gepoog word om die regte van wetsgehoorsame burgers verder in te perk.
AfriForum waarsku reeds die afgelope 18 maande lank dat die regering se voorgestelde wysigings aan die Wet op Vuurwapenbeheer daarop gemik is om wettige vuurwapeneienaars te ontwapen en derhalwe die werklike oorsake van vuurwapengeweld ignoreer.
“Die ontwapening van verantwoordelike burgers gaan nie misdadigers ontwapen nie. Dit gaan slegs wetsgehoorsame burgers meer weerloos laat, terwyl gewelddadige misdadigers steeds vrye toegang tot onwettige vuurwapens het,” voeg Broodryk by.
AfriForum doen daarom ’n beroep op die regering om sy ideologies gemotiveerde benadering tot vuurwapenbeheer te laat vaar en sy hulpbronne eerder toe te spits op:
- die beveiliging van vuurwapenvoorraad in besit van die SAPD, SANW en die Metropolisie;
- die uitroeiing van korrupsie binne die SAPD en ander staatsinstellings;
- die aftakeling van sindikate wat handel dryf in onwettige vuurwapens;
- die versterking van die polisie se speur- en forensiese vermoëns; en
- die doeltreffende arrestasie, vervolging en vonnisoplegging van gewelddadige misdadigers.
“Die land en sy mense verdien ’n vuurwapenbeleid wat nie deur ideologie gedryf word nie, maar deur feite. Die jongste parlementêre syfers maak dit glashelder – die probleem is nie wetsgehoorsame vuurwapeneienaars nie. Die probleem is gewelddadige misdadigers met onwettige vuurwapens, en die staat se volgehoue onvermoë om hulle te keer,” sluit Broodryk af.



