|

AfriForum betuig medelye met die afsterwe van nkosi Mpumalanga Gwebingqele Gwadiso

AfriForum het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van nkosi Mpumalanga Gwebingqele Gwadiso, voorsitter van die Oos-Kaapse Provinsiale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers en nkosi (senior tradisionele leier) van die Khonjwayo- tradisionele gemeenskap.

Volgens Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, sal nkosi Gwadiso onthou word vir sy professionaliteit, vriendelikheid en diensbaarheid. “Nkosi Gwadiso het met onwrikbare toewyding, standvastigheid en grasie gelei. Sy afwesigheid gaan diep gevoel word deur leiers en kultuurgemeenskappe in die Oos-Kaap en die res van die land. Hy het die nalatenskap van sy voorouers geëer, en ons eer sy nagedagtenis,” sê Uys.

“AfriForum dra sy innige meegevoel oor aan die Gwadiso- koninklike familie, die Khonjwayo- tradisionele gemeenskap en die Oos-Kaapse Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers. Ons bid vir vertroosting vir nkosi Gwadiso se familie, sy kultuurgemeenskap en almal wat onder sy leiding gestaan het. Ons bid dat ons Hemelse Vader hulle met krag en moed sal toerus vir môre se begrafnis en die moeilike dae wat voorlê,” sluit Uys af.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners