AfriForum en ondernemings pak vervalle ingang van Upington




AfriForum se Upington-tak het van 16 Julie tot 20 Julie saam met plaaslike ondernemings en vrywilligers ’n grootskaalse skoonmaak- en rehabilitasie-projek langs die N14, oorkant die Upington Veeartsenykliniek en die Bi-LO Engine-vulstasie, aangepak.
Die betrokke gebied is een van die hoofingange na Upington en het oor ’n lang tydperk verval weens onwettige storting, oorgroeide indringer bome soos die prosopisboom, en ander veiligheidsrisiko’s soos bosslapers en misdadigers wat die oorgroeide gebied gebruik as wegkruipplek. Inwoners het herhaaldelik kommer uitgespreek oor die gebied waar bosslapers skuiling vind, dwelms glo gebruik word, vullisversamelaars werksaam is en huishoudelike afval onwettig gestort word.
Tydens dié projek het die tak en vrywilligers onder meer die volgende gedoen:
- Indringer bome afgesny en verwyder;
- bome gesnoei om sigbaarheid en veiligheid te verbeter;
- ongeveer 50 swartsakke vol vullis opgetel;
- drie groot afvalhouers vol vullis weggery;
- gebruikte naalde en inspuitings opgetel en vernietig; en
- die algemene netheid van die gebied verbeter.
Walker Midas het opnuut hul gemeenskapsbetrokkenheid bewys deur ’n afvalhouer te borg waarmee die vullis na die munisipale stortingsterrein vervoer is. Sheriff Sekuriteit het personeel beskikbaar gestel om met die projek te help terwyl AfriForum met drie kettingsae en verskeie vrywilligers die digte plantegroei die stryd aangesê het.
Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari, sê dié projek wys wat bereik kan word wanneer die gemeenskap saamwerk. “Hierdie is een van die eerste indrukke wat besoekers van Upington kry. Ons kan nie toelaat dat ons dorp se ingange verval en onveilig raak nie. Gemeenskapslede en plaaslike besighede het weer bewys dat hulle bereid is om hul moue op te rol en self ’n verskil te maak.”
Strauss het sy waardering uitgespreek teenoor Walker Midas, Sheriff Sekuriteit en al die vrywilligers wat hul tyd, toerusting en hulpbronne beskikbaar gestel het om die projek moontlik te maak.
“Hoewel groot vordering gemaak is, is daar steeds baie werk wat gedoen moet word om die gebied ten volle te herstel. AfriForum beplan om die projek voort te sit en sal voortgaan om saam met die gemeenskap te werk om Upington skoon, veilig en netjies te hou,” voeg Strauss by.
Die organisasie neem ook kennis van die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit se onlangse mediaverklaring rakende toestemming vir gemeenskapsprojekte. AfriForum is egter van mening dat gemeenskapsinisiatiewe wat daarop gemik is om openbare ruimtes skoon, veilig en netjies te hou, ’n waardevolle bydrae tot die dorp lewer en dat samewerking tussen die munisipaliteit, ondernemings en burgerlike organisasies in die beste belang van alle inwoners is.
“Ons doel is nie om die munisipaliteit te vervang nie, maar om saam met die gemeenskap ’n positiewe verskil te maak. Waar mense bereid is om hul tyd en hulpbronne vrywillig aan te wend om hul dorp te verbeter, behoort sulke pogings aangemoedig te word.”
AfriForum doen ’n beroep op inwoners en plaaslike ondernemings om betrokke te raak by toekomstige skoonmaak- en rehabilitasie projekte sodat Upington ‘n dorp kan wees waarop almal trots kan wees.



