Onderrig, education, school, skool
|

AfriForum moedig publiek aan om kommentaar te lewer op voorgestelde  geskiedeniskurrikulum

Alana Bailey (Afrikaans)

AfriForum moedig alle belanghebbendes aan om te reageer op die departement van Basiese Onderwys se versoek vir kommentaar op die voorgestelde nuwe geskiedeniskurrikulum vir Grade 1 tot 12. Hierdie versoek het in die Staatskoerant van 20 Maart 2026 verskyn.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is dit noodsaaklik dat kinders met geskiedenis as vak kennis maak, mits dit objektief aangebied word. “Geskiedenis wat gebalanseerd en objektief bestudeer en aangebied word, bied aan kinders die geleentheid om hul identiteit en plek in die wêreld beter te verstaan. Dit stimuleer hul kritiese denke en rus hulle met empatie en respek vir ander gemeenskappe in die wêreld toe. Dit dra verder by tot hulle algemene geletterdheid, terwyl dit die onderskeie gemeenskappe en die mensdom oor die algemeen se kollektiewe geheue help bewaar.”

Bailey wys daarop dat geskiedenis wat ongebalanseerd en subjektief aangebied word, egter uiters gevaarlik kan wees. “Dit kan mites oor meerder- en minderwaardigheid verskans, of sondebokke skep, wat weer tot vervreemding, polarisasie en selfs geweld kan aanleiding gee,” verduidelik sy.

Die voorgestelde nuwe kurrikulum fokus baie sterk op Afrika. Bailey voer aan dat kinders die geskiedenis van hulle onderskeie gemeenskappe moet ken, asook die breër historiese agtergrond van die land waarin hulle woon, die kontinent én die wêreld.

“Oorbeklemtoning van die kontinent, soos wat die inleiding van die kurrikulum voorhou, kan maklik tot verdraaiings aanleiding gee. Afrika is ’n kontinent wat uit besonder diverse gemeenskappe bestaan. Om dié rede is meer spesifieke gemeenskapsgebaseerde onderrig nodig, sodat kinders nie net waardering vir ’n vae kontinentale identiteit het nie, maar hulle unieke plek daarbinne en hulle gemeenskap se bydrae tot die stand daarvan kan verstaan en waardeer,” sê sy.

“Die belangrikste rolspelers in geskiedenisonderrig bly ouers en onderwysers. Kurrikulumskrywers sal selde werklik objektiewe leerplanne skep en die ideologie van die regeerders van die dag sal altyd ’n rol speel. Dit is dus nodig dat ouers tuis en onderwysers in die klaskamer meer inligting aan kinders bied om hulle kennisraamwerk te verbreed en hulle in staat te stel om self ’n mening oor die feite te vorm. Dit lyk asof private onderwysinstellings ’n toenemend belangrike rol in Suid-Afrika sal speel om te verseker dat die jeug met ’n gebalanseerde historiese beeld toegerus word.”

Meer inligting oor die voorgestelde kurrikulum is op die webtuiste van die departement beskikbaar (www.education.gov.za) en die publiek het 30 dae tyd om hul kommentaar daarop in te dien.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners