| | |

Mangaung-gesprekke oor samewerking slegs rookskerm te midde van voortslepende diensleweringsuitdagings

Die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se onderhandelinge, vergaderings en beloftes blyk niks meer as ’n rookskerm te wees terwyl swak dienslewering voortduur, infrastruktuur verval en daar geen aanspreeklikheid is vir hierdie mislukkings nie.

AfriForum doen opnuut ’n beroep op die munisipale bestuurder, Sello More, om uit sy amp te bedank. Volgens die organisasie het openbare vertroue in die metro se vermoëns verder gekwyn sedert More se aanstelling.

More het AfriForum op 11 Mei vanjaar genooi om ’n vergadering by te woon ná die organisasie ’n petisie van stapel gestuur het om te eis dat More uit sy amp moet bedank weens die voortslepende probleme in dié metro.

Tydens dié vergadering het verskeie afdelingshoofde van die metro hul onderskeie afdelings se finansiële en operasionele uitdagings verduidelik en gepoog om die huidige toestand van die munisipaliteit te regverdig. Die metro het ook voorgestel dat daar maandelikse vergaderings tussen die metro en AfriForum gehou word om samewerking te bevorder en ’n memorandum van ooreenkoms tussen die partye op te stel.

AfriForum het die uitnodiging in goeie trou aanvaar en die voorgestelde memorandum van ooreenkoms aan die metro oorhandig en elektronies versend. Op 20 Mei het AfriForum verder skriftelik opgevolg rakende ’n volgende vergadering en die dokumentasie wat die metro onderneem het om te verskaf, insluitend aksieplanne, finansiële verslae en ander bestuursdokumente wat inwoners se vertroue in die metro se vermoë om sy uitdagings op te los sou kon herstel. AfriForum het egter geen terugvoer ontvang nie.

AfriForum meen dat hierdie stilswye inwoners se jarelange ervarings bevestig: die metro luister nie na die mense wat die gevolge van sy mislukkings moet dra nie. Inwoners hou egter aan om hul stem dik te maak oor vervalle infrastruktuur, swak dienslewering, water- en rioolprobleme en finansiële wanbestuur. Die metro maak leë beloftes en hou vergaderings wat uitloop op niks.  

“Die metro het self die vergadering versoek. Die metro het self voorgestel dat daar voortgesette samewerking moet wees. Die metro het self onderneem om dokumentasie en terugvoer te verskaf. AfriForum het elke stap in goeie trou gevolg. Die feit dat daar daarna geen terugvoer of reaksie volg nie, bewys presies waarom inwoners hul vertroue in die metro verloor het,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

AfriForum beskou die vergadering en die daaropvolgende proses as nutteloos, aangesien dit geen tasbare uitkoms, geen daadwerklike optrede en geen voordeel vir die gemeenskap opgelewer het nie. Intussen gaan die verval van Mangaung voort en word inwoners aan hul eie lot oorgelaat.

AfriForum is steeds bereid om met die metro te vergader indien dié gesprekke sal lei tot daadwerklike optrede en verbetering vir die gemeenskap. Die organisasie sal egter nie deel wees van prosesse wat daarop gemik is om kritiek te paai, die publiek gerus te stel of die indruk van vordering te skep terwyl dienslewering verder verswak nie.

“Die tyd vir mooi praatjies is verby. Inwoners het resultate nodig. AfriForum sal slegs deel wees van prosesse wat werklike verandering vir die gemeenskap meebring.”

AfriForum sal voortgaan om onafhanklik projekte en dienslewering inisiatiewe ter wille van inwoners aan te pak terwyl die metro niks doen. Die organisasie sal ook in noue konsultasie met sy regspan bly om verdere regstappe teen die Mangaung-metro te oorweeg om die munisipaliteit tot verantwoording te roep vir sy versuim om sy wetlike en grondwetlike verpligtinge teenoor inwoners na te kom.

“Vertroue word deur optrede verdien. Die metro se optrede het die teenoorgestelde bereik. Die gemeenskap van Mangaung verdien beter as ’n bestuur wat nie luister nie, nie reageer nie en nie resultate lewer nie.”

Teken die petisie om More uit sy amp te laat bedank hier.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf