|

AfriForum-buurtspan reis honderde kilometers om reuseslaggat in Kariega te herstel

Die Nelson Mandelabaai-metro het dalk nagenoeg nege maande lank die gemeenskap van Kariega (voorheen Uitenhage) se pleidooie vir die herstel van ’n reuse-slaggat in dié dorp geïgnoreer, maar nie eens die 500 km lange retoerrit óf die omvang van dié slaggat het AfriForum se Knysna-buurtspan gekeer nie. Daarom het dié span voltydse werkers vroeër vandeesmaand die langpad vanaf Knysna na Kariega aangedurf om ’n bielie van ’n slaggat met sowat 3,5 ton teer te gaan herstel.

Dié slaggat in Channerstraat het inwoners maande lank geteister en ná vele oproepe aan die metro onbeantwoord gebly het, is AfriForum se hulp ingeroep. Dié slaggatprojek is boonop as die gulde geleentheid aangegryp om die plaaslike AfriForum-tak touwys te maak in die fynere kuns van slaggatherstelwerk. Dié kennis sal nou oorgedra kan word aan die Uitenhage-tak se eie buurtspan wat in die vooruitsig gestel word om ook soortgelyke probleme in dié gemeenskap aan te pak.

Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, hou vol dat die “Channerstraat-monster” tekenend is van die verval waaronder dorpe en stede in elke uithoek van die land daagliks gebuk gaan. “Ons kan egter nie wag op die regering om oplossings te skep nie. Daarom is dit vir gemeenskappe noodsaaklik om hulself te organiseer en verantwoordelikheid vir hul omgewing te begin neem,” verduidelik hy.

“Wanneer die staat – hetsy op plaaslike, provinsiale of nasionale vlak – versuim om sy verantwoordelikhede na te kom, is dit gewone inwoners wat eerste is om die gevolge daarvan dra. Probleme word dikwels maande of selfs jare lank geïgnoreer. Daarom bring AfriForum landwyd buurtspanne op die been om gemeenskappe in staat te stel om self verval teen te werk en hul dorpe te verbeter.”

Volgens Erasmus is die samewerking tussen die Knysna-buurtspan en AfriForum se Uitenhage-tak ’n tasbare bewys dat georganiseerde gemeenskappe oor dorps- en provinsiale grense heen kan en moet saamwerk. “Ons wag nie bloot dat iemand anders die probleem moet oplos nie. Waar ons die vermoë het om ’n verskil te maak, spring ons self aan die werk. Dít is hoe sterk, selfstandige gemeenskappe gebou word,” sluit Erasmus af.

Word deel van AfriForum

Word vandag nog deel van die AfriForum-span en bevorder die kultuur van selfdoen en gemeenskapstrots in jou gemeenskap. Kontak Erasmus (marthinus.erasmus@afriforum.co.za / 081 216 9602) vir meer inligting.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf