|

AfriForum se Hessekwa-tak knap historiese Meurant-begraafplaas op

AfriForum se Hessekwa-tak het die afgelope naweek die eerste fase van sy opknappingsprojek by die historiese Meurant-begraafplaas in Riversdal suksesvol aangepak. Die begraafplaas, waar onder andere Louis Henri Meurant begrawe is, is ’n belangrike deel van Riversdal se geskiedenis.

Tydens die opruimingsaksie is sowat 1 600 m² se gras gesny, twee indringerbome afgesaag en verwyder, toegegroeide grafte skoongemaak en onkruid verwyder. Daarbenewens is meer as 100 sakke tuinvullis en ander rommel van die terrein verwyder, wat ’n beduidende verskil aan die voorkoms en toeganklikheid van die begraafplaas gemaak het.

Die projek is ondersteun deur AfriForum se Knysna-buurtspan, asook lede van die plaaslike Tuinbouklub en ander toegewyde vrywilligers wat hul tyd beskikbaar gestel het om die terrein op te knap.

Hierdie projek is die eerste in talle ander opknappingsprojekte wat AfriForum se Hessekwa-tak by die historiese perseel gaan aanpak. Dié tak gaan met skoonmaakprojekte help om die begraafplaas en die geskiedkundige waarde daarvan vir toekomstige geslagte te bewaar.

“Louis Henri Meurant, waarna die begraafplaas vernoem is, was ’n joernalis en skrywer wat Afrikaans as skryftaal help vestig het. Sy nalatenskap verdien om as deel van ons taal- en kultuurerfenis bewaar te word. Die bewaring van sy laaste rusplek dra daarom by tot die beskerming van ’n belangrike stuk van Suid-Afrika se geskiedenis,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

AfriForum moedig inwoners aan om deel te word van die tak se projekte en saam te bou aan ’n kultuur van selfdoen, verantwoordelikheid en gemeenskapstrots. Sluit vandag nog by die Hessekwa-tak aan. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel vir Erasmus by 081 216 9602 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf