|

Los wettige vuurwapeneienaars! Beveilig eerder staatsarsenaal

Jacques Broodryk (Afrikaans)

Die onlangse diefstal van militêre wapens, insluitend R4-aanvalsgewere en granaatwerpers, plaas volgens AfriForum die kollig opnuut op staatsinstellings se onvermoë om wapens te beveilig. Die burgerregteorganisasie voer aan dat die staat die sirkulasie van onwettige vuurwapens in die land verkeerdelik op wetsgehoorsame vuurwapeneienaars blameer, in plaas daarvan om doeltreffende vuurwapenbeheer toe te pas.

“Dit is uiters kommerwekkend dat die veiligheidswagte by die betrokke weermagbasis in Centurion geen onraad vermoed het nie én dat toegang tot die wapens verkry is sonder dat alarms geaktiveer is. Dit dui op sistemiese tekortkominge in die beveiliging van militêre infrastruktuur,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Soortgelyke voorvalle is al in die verlede aangemeld, wat ’n duidelike patroon van gebrekkige beheer, swak dissipline en die afwesigheid van aanspreeklikheid binne staatsinstellings bevestig. Dit is juis hierdie tipe versuim wat veroorsaak dat gevaarlike militêre wapens uiteindelik in die hande van georganiseerde misdaadsindikate beland.

“Dit is duidelik dat die grootste risiko nie by wetsgehoorsame vuurwapeneienaars lê nie, maar by die staat se onvermoë om sy eie wapentuig te beveilig. Terwyl die regering poog om strenger beperkings op burgerlike vuurwapenbesit in te stel, word militêre wapens – wat ’n veel groter bedreiging inhou – toenemend gebuit,” sê Broodryk.

AfriForum waarsku dat die regering se Wysigingswetsontwerp op Vuurwapenbeheer, wat daarop gemik is om burgerlike vuurwapenbesit verder te beperk, in hierdie konteks nie net irrasioneel is nie, maar uiters verdag.

“Die staat probeer in wese wetsgehoorsame burgers ontwapen, terwyl dit self nie daarin slaag om basiese sekuriteitsmaatreëls by militêre fasiliteite toe te pas nie. Hierdie benadering ignoreer die werklike oorsprong van wapens wat in misdrywe gebruik word en plaas verdere beperkings op mense wat reeds aan streng wetlike vereistes voldoen eerder as om misdadigheid die hoof te bied,” voeg Broodryk by.

AfriForum voer aan dat dit onsinnig is om voor te gee dat meerderheid van vuurwapens wat in ernstige misdade gebruik word, uit die hande van gelisensieerde vuurwapeneienaars kom, wanneer dit in werklikheid uit staatsvoorrade, korrupsie en die swartmark voortspruit. Die fokus moet eerder val op die versterking van staatskapasiteit, beter beheer van bestaande wapens en die aanspreeklikheid van amptenare wat versuim om hul pligte na te kom.

“Solank die staat nie sy eie huis in orde kry nie, sal pogings om misdaad te bekamp nie slaag nie. Die fokus moet wees op die aanspreek van sistemiese mislukkings en nie op die verdere beperking van wetsgehoorsame burgers se regte nie,” sluit Broodryk af.

AfriForum sal voortgaan om hom te verset teen beleidsrigtings wat nie die werklike oorsake van geweldsmisdaad aanspreek nie.

Soortgelyke plasings

Veiligheid