|

Plan om artikel 235 te herroep, is strydig met Afrika-handves, waarsku AfriForum

Deur Marthinus Koekemoer

AfriForum maak ten sterkste beswaar teen Mzwanele Manyi, MK-party (MKP)-LP, se kennisgewing van sy grondwetlike wysigingswetsontwerp om artikel 235 van die Grondwet, wat vir die selfbeskikking van kultuur- en ander gemeenskappe voorsiening maak, te laat herroep. Die burgerregteorganisasie hou vol dat die skrap van dié artikel nie net strydig sal wees met die Afrika-handves van Mense- en Volkeregte nie, maar ook met die Verenigde Nasies (VN) se Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte (ICCPR) sowel as die VN se Deklarasie vir die Regte van Inheemse Volke (UNDRIP).

“Die voorgestelde wysiging is ’n aanval op alle kultuur- en ander gemeenskappe wat selfstandigheid, kulturele outonomie en selfbeskikking, in ooreenstemming met die Grondwet en internasionale reg, nastreef. Gemeenskappe sal in die proses van die reg tot selfbeskikking gestroop word,” verduidelik Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum.

AfriForum het op 26 April amptelike kommentaar op die voorgestelde grondwetlike wysigingswetsontwerp ingedien. Daarin verwys AfriForum spesifiek na artikels 20 en 28 van die ACHPR, artikels 1, 5 en 27 van die VN se ICCPR sowel as artikels 3, 4 en 8 van die VN se UNDRIP en hoe die herroepping van artikel 235 ingevolge dié verdrae strydig met internasionale reg sal wees.

“Verskeie kultuurgemeenskappe tree tans binne die raamwerk van artikel 235 op om vir hulself en hul kinders ’n toekoms te verseker onder omstandighede waarbinne die staat toenemend misluk om sy mees basiese verpligtinge na te kom. ’n Herroeping sal dus die wetgewende ruimte, waarbinne gemeenskappe kan beweeg, vernou en bemoeilik. Die grootste gevaar daaraan verbonde is dat dit die wetgewende omgewing verder sal sentraliseer. Dit sal teen gemeenskappe gebruik kan word en hul vryheid kan beperk,” sê Uys.

Hoewel die herroepping van artikel 235 nie opsigtelik ’n direkte impak op privaat eiendomsreg het nie, hou Uys vol dat ’n gebrek daaraan wel deur kwaadwillige staatsamptenare en politici aangewend sal kan word om gemeenskaplike grondbesit, soos byvoorbeeld dié van die Ingonyama Trust, Orania en Kleinfontein, te ondermyn.

Die belangrikste is egter dat Afrikaners nie alleen staan in hierdie stryd om die reg op selfbeskikking te verdedig nie.

Barend UYS

“Die reg op selfbeskikking is ’n onvervreembare reg wat internasionaal erken word. Dit sou dus vir die MKP baie moeilik wees om hierdie wysiging deur te voer omdat ons plaaslik en internasionaal ’n baie goeie kans op suksesvolle litigasie sal hê. Die internasionale verleentheid wat dit vir die Suid-Afrikaanse regering sal skep, sal steun hiervoor vanuit ander politieke partye, en die regering self, beperk. Die belangrikste is egter dat Afrikaners nie alleen staan in hierdie stryd om die reg op selfbeskikking te verdedig nie. Daar is verskeie ander kultuurgemeenskappe wat ook sterk daaroor voel en saam met ons, ter wille van ons almal se kinders, daarvoor sal veg,” sluit Uys af.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners