Mangaung-vullisfiasko: Só probeer metro hof bedrieg – AfriForum
Klankgreep: Christo Groenewald (Afrikaans)
Klankgreep: Christo Groenewald (Engels)
AfriForum is slaggereed om die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit die stryd in die hof aan te sê en dié metro se vele mistastings oor die omvang van die vullisverwyderingsfiasko in die Rosestad te weerlê. Sello More, die metro se munisipale bestuurder, het verlede week die metro se opponerende eedsverklaring ingedien in reaksie op AfriForum se hofaansoek oor die volgehoue mislukking van vullisverwyderingsdienste. Daarin word onder meer aangevoer dat die vullisverwyderingsdiens nie in ’n krisis verkeer nie en dat inwoners steeds verplig is om vir die diens te betaal al maak hulle van privaat diensverskaffers gebruik.
Die burgerregteorganisasie hou egter vol dat die metro se voorstelling van die stand van vullisverwydering daarop gemik is om die hof te bedrieg, en dat die weiering om inwoners kwyt te stel van betaling, onwettig is.
AfriForum se hofsaak spruit uit jare lange volgehoue vullisverwyderingsprobleme in dié metro waar vullis telkens net sporadies verwyder word. Die metro voer aan dat dié probleme weens operasionele uitdagings, soos brandstoftekorte en onklaar vullisverwyderingsvragmotors, opduik, maar dat dit geensins so ernstig is as wat AfriForum voorhou nie. Dié agteruitgang in betroubare vullisverwydering hou egter volgens AfriForum ernstige gesondheid-, omgewing- en veiligheidsrisiko’s in vir inwoners en behoort daarom dringend getakel te word.
AfriForum se regspan sal binnekort sy repliserende eedsverklaring liasseer. Daarin sal volledig op die inhoud van die metro se eedsverklaring gereageer word. Sodra dié proses afgehandel is, sal ’n hofdatum vasgestel kan word.
Volgens Christo Groenewald, AfriForum se Bloemfontein-distrikskoördineerder, beeld die metro se eedsverklaring nie die werklikheid uit van dit waarmee duisende inwoners op voetsoolvlak worstel nie. “Talle inwoners het uit radeloosheid nou reeds privaat diensverskaffers gekontrakteer om hul vullis te verwyder, maar ondanks die ruimte wat wetgewing skep vir kwytskelding van betaling van dié diens, volhard die metro in sy weiering om toestemming daarvoor te gee. Dit kom dus neer op ’n onaanvaarbare gebruik wat inwoners as’t ware dubbel belas vir ’n diens wat nie meer betroubaar deur die metro gelewer word nie.”
AfriForum se hofaansoek poog om die regsbeginsel te bevestig dat inwoners nie verplig behoort te wees om vir dienste te betaal wat nie gelewer word nie; dat inwoners die reg het om alternatiewe diensverskaffers te gebruik; en dat die metro aanspreeklik gehou moet word vir die versuim om basiese dienslewering te verseker.
Hoewel die metro in sy eedsverklaring beweer dat daar prosedures bestaan om geskille te beredder, bly die realiteit dat hierdie meganismes – te midde van die voortdurende vulliskrisis – in praktyk onvoldoende en ondoeltreffend is.
“AfriForum sal die saak voortsit om te verseker dat die metro sy grondwetlike verpligtinge nakom en dienslewering herstel. Die benadeling van inwoners se gesondheid en die finansiële las wat die swak dienslewering meebring, kan nie langer geduld word nie,” sluit Groenewald af.



