|

AfriForum vra strengste moontlike optrede teen betrokkenes by matriekbedrog

Alana Bailey (Afrikaans)

AfriForum verwelkom die departement van Basiese Onderwys se vinnige en kragdadige optrede om vas te stel wie vir die uitlek van sewe vraestelle in sewe skole in Pretoria verantwoordelik was. Terselfdertyd doen dié organisasie ’n beroep op owerhede om die sterkste moontlike strafmaatreëls teen die betrokkenes in te stel.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, kan die gevolge van bedrog van hierdie aard vernietigend vir vele mense se toekoms wees. “Nie net die verantwoordelikes word daardeur geraak nie, maar dit kan vraagtekens oor die koppe van ’n hele jaargroep laat hang as die ondersoek nie omvattend en diepgaande genoeg is nie. AfriForum is daarom dankbaar vir die erns waarmee die departement hierdie saak hanteer en die minister se eerlikheid daaroor, hoewel ons bekommerd is oor die feit dat bedrog nou al heelwat kere in die onlangse tyd in matriekeksamens opgeduik het.”

Sy verwys byvoorbeeld na die insident in 2020 toe die oorskryf van ’n wiskunde- en fisiese wetenskapvraestel ’n groot moontlikheid was. “Enige insidente soos hierdie skep groot spanning by die matrikulante wat juis na die eksamen wil ontspan, want hulle besef as die omvang van die insident nie akkuraat bepaal kan word nie, dit die hele jaargroep kan raak en letterlik twaalf jaar se harde werk van hulle en hulle onderwysers ongedaan kan maak.

“Mense wat hul vertrouensposisies misbruik om vraestelle te laat uitlek, is verantwoordelik vir die diefstal van kinders se drome en toekoms. Hulle moet gevolge dra wat ander wat soortgelyke oortredinge oorweeg, sal afskrik,” sluit Bailey af.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners