Solidariteit Beweging maak vyf antwoorde op die VSA se versoeke bekend
Uitgereik deur die voorsitter van die Solidariteit Beweging, Flip Buys, die uitvoerende hoof van AfriForum, Kallie Kriel; en die uitvoerende hoof van Solidariteit, dr. Dirk Hermann.
Die Solidariteit Beweging, waarvan AfriForum en Solidariteit deel is, het vandag vyf antwoorde op die VSA se vyf versoeke bekendgemaak. Die Amerikaanse regering het verlede jaar vyf versoeke aan die Suid-Afrikaanse regering gerig oor kwessies wat ʼn geskil tussen die twee lande ontketen het.
Die Solidariteit Beweging se vyf antwoorde het ten doel om oplossings vir die politieke en diplomatieke geskil tussen die twee lande te vind. Ons is daarvan oortuig dat dit in Suid-Afrika se nasionale belang is om goeie betrekkinge met die VSA te handhaaf, net soos met ander moondhede.
Die Beweging se antwoorde handel oor kwessies soos rassewette, landelike veiligheid, “Kill the Boer”, eiendomsreg en die vlugtelingprogram. Die doel van die antwoorde is nie net om handelsbetrekkinge te herstel nie, maar ook om oplossings vir kritieke brandpunte in Suid-Afrika te vind. Ons wil dit duidelik stel dat ons uitgangspunt is om Suid-Afrika se kant te kies, en nie dié van die Withuis of Luthuli-huis nie. Ons voel ook sterk oor die handhawing van Suid-Afrika se soewereiniteit, maar glo dat dit nie gelyk gestel kan word aan die ANC se soewereiniteit nie. Kiesers het vir ʼn regering van nasionale eenheid (RNE) gestem. Ons glo as die ander partye in die RNE by die formulering van buitelandse beleid betrek word, ʼn oplossing vinnig binne die raamwerk van die Grondwet en ʼn onverbonde buitelandse beleid gevind sal kan word.
Dit is in Suid-Afrika se belang dat antwoorde op Amerikaanse versoeke gevind word. Ons glo die oplossings moet eers in Pretoria en daarna in Washington gevind word. Ons het groot verskille met die regering, maar ons is lief vir ons land en is diep bekommerd oor die uitwerking van langdurige diplomatieke geskille op Suid-Afrika se ekonomie en internasionale beeld.
Maande lange gesprekke
Die voorgestelde vyf antwoorde is die uitkoms van maande se werk, wat besoeke aan die Verenigde State, uitvoerige gesprekke met die Suid-Afrikaanse presidensie en deurlopende skakeling met die Amerikaanse ambassade in Pretoria, asook met besluitnemers in Washington ingesluit het. Ons beplan om steeds in gesprek hieroor met albei regerings te bly.
Ons glo die regerings kan mekaar vind. Ons vra dat voorwaardes in werking gestel moet word om die spanning te de-eskaleer en om gesprekke tussen die regerings te hervat. Dit behels onder meer ʼn bona fide-verbintenis om oplossings te vind en die wil om besluite te neem wat dit moontlik maak.
Ons vyf antwoorde val binne Suid-Afrika se grondwetlike raamwerk en bied terselfdertyd antwoorde op die Amerikaners se versoeke.
Dit is nie eise of ‘n lys van klagtes nie, maar praktiese antwoorde. Die Amerikaanse regering het breë beginselgoedkeuring aan ons vyf antwoorde verleen en ons glo dat dit ook vir die Suid-Afrikaanse regering aanvaarbaar kan wees indien die politieke wil bestaan.
Ons is uiters bekommerd dat die optrede teen Suid-Afrika gaan verskerp. Wanneer Suid-Afrika vir swak beleid en vyandige houdings teenoor ons handelsvennote gestraf word, is dit nie ministers wat die rekening kry nie, maar die vrugteboer in die Wes-Kaap, die fabriekwerker by ʼn motoraanleg in die Oos-Kaap en die sakeman in die Vaaldriehoek wat daarvoor betaal. Ons beleef dat die ANC teen sy eie mense regeer.
Die Suid-Afrikaanse regering maak dit baie moeilik om ʼn skikking tussen die twee lande te bereik. Daar is ʼn lang geskiedenis van keuses en uitsprake teen die Amerikaanse regering. Die spanning tussen Suid-Afrika en die Verenigde State bou al meer as 15 jaar op, sedert die Obama-jare en die aansluiting by Brics in 2010. Die onlangse uitsprake van Suid-Afrika se minister van buitelandse betrekkinge en samewerking, Ronald Lamola, was nog ʼn bevestiging daarvan. Dit is ʼn terugslag vir die Solidariteit Beweging se jare lange steunwerwing in die VSA vir Suid-Afrika se deelname aan Agoa.
Daar is ook ʼn direkte verband tussen die ondertekening van die Onteieningswet en president Trump se uitvoerende bevel van 7 Februarie 2025. Suid-Afrika se buitelandse beleid het ook die Amerikaanse administrasie deurlopend vervreem.
Ten spyte van hierdie verband is gepoog om die Solidariteit Beweging, AfriForum en Solidariteit die skuld vir die verslegtende verhouding te gee. Ons verwerp hierdie soeke na ʼn sondebok vir die ANC se powere diplomatieke skakeling met die VSA. Ons weier om ʼn pion in ʼn diplomatieke skaakspel tussen twee regerings te wees. Hoewel ons nie die oorsaak van die probleem is nie, sal ons saamwerk om ʼn oplossing te vind.
Amerika bly Suid-Afrika se grootste handelsvennoot en 500 000 poste is afhanklik van handel met Amerika. Ons is uiters bekommerd dat strenger strafmaatreëls Suid-Afrika se deelname aan Agoa kan bedreig. ʼn Hersieningsproses om te bepaal watter Afrikalande volgende jaar vir deelname aan Agoa sal kwalifiseer, is tans in die Withuis aan die gang. Gebeure die afgelope twee weke veroorsaak dat daar ʼn wesenlike kans bestaan dat Suid-Afrika van Agoa uitgesluit kan word. Die Withuis sal waarskynlik voor November ʼn aankondiging hieroor maak. Daar is dus ʼn dringendheid om ʼn oplossing te vind.
Om ʼn oplossing te vind vir die geskil tussen die twee lande het niks met Suid-Afrika se soewereiniteit te make nie, en dit bedreig vir seker nie die land se reg om oor sy eie sake te besluit nie. Elke regering het egter wel ʼn reg, maar ook ʼn plig teenoor sy burgers om as soewereine rolspeler oplossings in belang van die land te vind.
Die Solidariteit Beweging se antwoorde kan soos volg opgesom word:
Rassewette
Die regering moet instem dat rassewette, soos wat internasionale konvensies bepaal, uitgefaseer sal word. Intussen sal rasneutrale ekwiteitsekwivalente, wat eienaarskapsvereistes vervang, vir sowel multinasionale as plaaslike maatskappye aanvaar word. Die ooreenkoms tussen Solidariteit en die regering, wat onder toesig van die Internasionale Arbeidsorganisasie (IAO) bereik is, en wat beperkings op rassewette in die werkplek plaas, sal in die Staatskoerant gepubliseer word.
Rasneutrale metodes van werknemerbemagtiging sal as voorkeurmeganismes vir bemagtiging deur eienaarskap aanvaar word. Mense se sosio-ekonomiese posisie, eerder as ras, sal gedurende die uitfaseringsproses as maatstaf gebruik word. Jongmense wat ná 1994 gebore is, sal ook as deel van die aangewese groep beskou word.
Landelike veiligheid
Die regering sal plaasmoorde en misdaad in plattelandse gebiede, soos in die geval van bendegeweld en renosterstropery, tot prioriteitsmisdade verklaar. ʼn Amptelike gemeenskapveiligheidsvennootskap sal gestig word waarin die SAPD, die privaat veiligheidsbedryf en gemeenskapsorganisasies soos AfriForum gelyke verteenwoordiging sal hê.
Die SAPD se bestaande landelike beveiligingstrategie sal uitgebrei word om veel groter betrokkenheid deur gemeenskapsveiligheidsinisiatiewe moontlik te maak. AfriForum het reeds ʼn omvattende gemeenskapsveiligheidsplan vir landelike veiligheid opgestel en aan die Suid-Afrikaanse en Amerikaanse regerings oorhandig. ʼn Nasionale gemeenskapsveiligheidsforum sal gestig word om die uitvoering van die Beveiligingsplan te monitor. Die Amerikaanse regering sal deur die forum met befondsing, kundigheid en die verskaffing van toerusting help.
‘Kill the Boer’
Die sing van “Kill the Boer” is, in die hedendaagse konteks, een van die ernstigste brandpunte. Daar moet ooreengekom word dat pres. Ramaphosa en senior regeringsleiers die sing van “Kill the Boer”, asook enige ander haatverwante slagspreuke teen minderhede, onvoorwaardelik sal veroordeel.
Ons belewing is nie dat ʼn grootskaalse regeringsgedrewe volksmoord (“genocide”) hier plaasvind nie, maar ons ervaar wel dat die ANC Afrikaners se voortbestaan teiken deur omvattende rassewetgewing, die onderspeling van plaasmoorde, aanvalle op ons taal en kultuur deur wetgewing soos Bela, en die verbreking van ooreenkomste wat die regering met ons daaroor aangegaan het.
Vlugtelingprogram
Die vlugtelingprogram bestaan reeds. Die regerings van die VSA en Suid-Afrika moet ooreenkom dat individue wat van die program wil gebruikmaak, toegelaat moet word om die proses sonder benadeling te volg. Minder as 1% van Afrikaners sal hulle waarskynlik in die VSA gaan vestig. Die Solidariteit Beweging is nie betrokke by hierdie program nie omdat ons glo dat ons toekoms in Suid-Afrika is en ons aan oplossings vir knelpunte hier werk.
Daar moet ooreengekom word dat ’n direkte kanaal tussen die Amerikaanse administrasie en die Solidariteit Beweging gevestig sal word, onder meer met die oog op die stigting van ’n Afrikaner-ontwikkelingsfonds. Dié fonds kan help met die ontwikkeling van opleidings- en kulturele infrastruktuur vir die Afrikanergemeenskap.
Gesprekke sal ook tussen die Solidariteit Beweging en die Amerikaanse administrasie gevoer word oor die uitvoer van vaardighede na daardie land deur middel van aanlyn werk, sonder dat mense Suid-Afrika hoef te verlaat.
Onteiening sonder vergoeding
Die regerings van die VSA en Suid-Afrika neem kennis van die hangende hofsaak in dié verband, maar is steeds van mening dat ʼn skikking verkieslik is bo ’n hofsaak. In die lig hiervan moet artikel 12(3) van die Onteieningswet geskrap word. Artikel 19(2) moet gewysig word om te voorkom dat grond onteien word voordat ʼn hof ’n finale beslissing gelewer het. Verdere wysigings moet aangebring word om te verseker dat eiendomsreg beskerm word soos deur die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal.
- Laai klankgrepe hier af.
Arno Roodt
Operasionele Beampte: Solidariteit Beweging
Sel: 068 562 6184
E-pos: arno@solidariteit.co.za
Flip Buys
Voorsitter: Solidariteit Beweging
Sel: 082 335 3430
E-pos: flip@solidariteit.co.za



