|

Elandré volg in Steve Hofmeyr se spore as Bruce Beyers in nuwe musiekblyspel

Een van die bekendste karakters uit die goue era van Afrikaanse televisie keer in 2027 terug — dié keer op die verhoog. Elandré gaan Bruce Beyers vertolk in Agter elke man – die musiekblyspel, ’n splinternuwe verhoogproduksie wat volgende jaar by AfriForum Teater debuteer. Kaartjieverkope vir hierdie produksie open op 1 Oktober.

Die geesdriftige sanger volg daarmee in Steve Hofmeyr se spore, wat die geliefde karakter in die oorspronklike televisiereeks en film vertolk het. Elandré bring egter sy eie aanslag na dié ikoniese rol.

“Ek weet Bruce Beyers is ’n karakter wat vir baie mense ongelooflik baie nostalgie dra. Om die kans te kry om hom vir ’n nuwe generasie op die verhoog te laat leef, is ’n enorme voorreg. Ek sien daarna uit om my eie hart en energie na die rol te bring,” sê Elandré.

Die raaisel rondom Antie Stienie se verhoogvertolker is uiteindelik opgelos: Amanda Strydom, een van Suid-Afrika se mees gevierde en veelsydige kunstenaars, is gekies om dié ikoniese karakter gestalte te gee. Oor ’n loopbaan van meer as vier dekades het sy haar as bekroonde sangeres, liedjieskrywer, kabaretkunstenaar, dramaturg en aktrise onderskei. Haar lied “Ek loop die pad” het ’n klassieke Afrikaanse lied geword, en haar eenvrouvertoning State of the Heart is met DALRO- en Evening Post-toekennings bekroon. Kunste Onbeperk en die kykNET Fiëstas het haar ook vir haar lewenslange bydrae tot die kunste vereer.

Gehore kan intussen uitsien na ’n nuwe verhoogweergawe van ’n verhaal wat oor die jare heen ’n spesiale plek in Afrikaanse popkultuur gekry het. Die geliefde verhaal word gekombineer met oorspronklike musiek uit die pen van Johan Vorster en Jacomien de Wet van Inhoud Huis Musiek.

“Ek en Jacomien kon onsself afsonder in ’n afgeleë houthuisie naby Greyton vir die skryf van die musiek en lirieke vir Agter elke man – die musiekblyspel,” sê Vorster. “Ons het gou besef dat daar ’n baie groot verantwoordelikheid op ons skouers rus om die geliefde karakters wat so meesterlik deur Frans Marx geskep was, eer aan te doen, selfs al dra dit ’n splinternuwe baadjie.”

Onder leiding van die regisseur en skrywer Jannes Erasmus gaan daar nuwe lewe in die verhaal van Agter elke man geblaas word. Internasionale bekroonde stelontwerper Wilhelm Disbergen gaan boonop gehore terug na die 80’s toe neem met sy meesterlike verhooguitleg.

“Ons is geëerd om vir ’n tweede keer die geleentheid te kry om ’n bekende Suid-Afrikaanse film- of televisieproduksie in ’n musiekblyspel te omskep. Die karakters, die humor en die wêreld van Agter elke man bied soveel moontlikhede om iets besonders vir die verhoog te skep,” sê De Wet.

Die produksie volg op die suksesvolle samewerking tussen AfriForum Teater en Inhoud Huis Musiek oor verskeie musiekteaterproduksies. Hul het reeds gehore bekoor met produksies soos Die Gelofte, Die Kaplyn, Die Afrikaner maak so, Ons vir jou en Semi-Soet – die musiekblyspel.

Kaartjieverkope vir Agter elke man – die musiekblyspel open op 1 Oktober 2026.

Die besonderhede van die produksie is as volg:


Vertoning:                 2027
Plek:                           AfriForum Teater, Pretoria
Kaartjies:                   www.musiekblyspel.co.za

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners