| | |

Keimoes gereed om te blom dié lente

Die lente is om die draai en AfriForum se Keimoes-tak het self moue opgerol om te sorg dat dié dorp se strate en openbare ruimtes skoongemaak word voor die lente kom. Dié tak het op 20 Augustus ’n omvattende skoonmaakaksie aangepak om te verhoed dat vullis en verwaarloosde gebiede die dorp se lentebloeisels en mooi omgewing oorskadu.

Kobus Pool, lid van AfriForum se Keimoes-tak, en Hendrik Andreas, wat in Pool se diens is, het eerste die aalwyntuin naby die waterwiel skoongemaak. Die AfriForum-tak het dié tuin sowat drie jaar gelede aangeplant.  Vullis word gereeld onwettig in hierdie tuin gestort en dus is die vullis opgetel, onkruid verwyder en die gras binne en rondom die tuin ook gesny. Die parkie is ook behoorlik skoongemaak en oorvol vullisdromme is leeggemaak. Die tak het ook die terrein by die openbare toilette skoongemaak en die oorvol vullisdromme leeggemaak.

Pool en Andreas het selfs by die Keimoes-waterwiel aangegaan om verskeie probleme met dié bekende wiel uit te klaar. ’n Verstopte waterpyp is oopgemaak en ’n gat, wat reeds veroorsaak het dat verskeie mense struikel, is opgevul. Die plante rondom die waterwiel is natgelei, daar is gehark en vullis verwyder. Die tak sal later ook die waterwiel se vin, wat verroes het, verwyder en herstel.

Die area rondom die historiese kerkie in die dorp is ook skoongemaak. ’n Gedeelte van die sypaadjie langs die kanaalwal is netjies gesny en vullis is verwyder. In totaal is byna 2 ton vullis en tuinvullis verwyder.

“Ons wil hê inwoners en besoekers moet trots wees op Keimoes. Ons dorp het besondere natuurlike skoonheid en ’n ryk geskiedenis, en daarom is dit belangrik dat ons almal ons deel moet doen om dit te bewaar,” sê Meisie Pool, lid van AfriForum se Keimoes-tak. “Hierdie aksie wys dat ’n mens nie hoef te wag vir iemand anders om ’n probleem op te los nie. Soms moet ons self die eerste stap neem.”

Die skoonmaakaksie sal eersdaags voortgesit word en die tak beoog om die sypaadjies langs Hoofstraat te takel.

Die Keimoes-tak doen ’n beroep op die inwoners van Keimoes om saam verantwoordelikheid vir die dorp te neem en vullis op die regte plekke weg te gooi.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf