AfriForum-buurtspan prioritiseer padveiligheid in Vryburg
AfriForum se Vryburg-buurtspan het die afgelope paar weke verskeie projekte aangepak wat daarop gemik is om die dorp en die paaie wat die gemeenskap daagliks van gebruik maak, veiliger te maak.
Die tak het in dié tydperk meer as 1,5 hektaar se gras op leë erwe en oop stukke veld tussen woongebiede gesny. Die digte plantegroei word dikwels deur misdadigers gebruik om weg te kruip. Die buurtspan het ook verlede week ’n projek by Laerskool Vryburg voltooi waar slaggate op die skoolterrein herstel is. Meer as een ton gruis is gebruik om die beskadigde paaie te herstel. Dit is nou eindelik weer veilig en toeganklik vir onderwysers, personeel en ander besoekers.
“Hierdie projekte is deel van die Vryburg-tak se volgehoue verbintenis om ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap te maak. AfriForum wil nie net reageer op probleme nie, maar proaktief optree om ’n beter omgewing vir almal te skep. Die buurtspan het ’n uiters belangrike rol in hierdie projekte te speel en maak dit vir die tak moontlik om verskeie projekte op ’n slag aan te pak,” sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.


AfriForum se Vryburg-buurtspan het vanjaar verskeie projekte aangepak en beplan om in die toekoms nog meer te doen om die dorp te verbeter, insluitend die oprigting van nuwe stoptekens. Die buurtspan se uitgawes beloop duisende rand per maand, maar met die gemeenskap se ondersteuning help hierdie buurtspan om daagliks Vryburg ’n dorp te maak waarop almal kan trots wees.
Klik hier om vandag nog ’n bydra tot die bedrywighede van AfriForum se Vryburg-buurtspan te maak.



