| |

Gekaapte watertenkwa – én sleepwa wat byna dekade gelede gesteel is – teruggevind

’n Munisipale watertenkwa wat verlede week (Donderdag 20 Augustus) in eMzinoni, buite Bethal, gekaap is, is Vrydag danksy die paraatheid van AfriForum, in samewerking met plaaslike veiligheidsrolspelers en ’n privaat opsporingsmaatskappy, nagenoeg 400 km daarvandaan in Kanyamzane, buite Mbombela (Nelspruit) opgespoor. Benewens dié sukses is ’n sleepwa wat reeds in 2017 in Middelburg gesteel is, ook in besit van die verdagtes opgespoor.

Die roete van die voortvlugtendes is deur sekuriteitskameras opgetel.

Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld, het kort ná nuus oor die kaping op Bethal bekend geraak het, met privaat beheerkamers in die streek geskakel om die vragmotor op veiligheidskameras te probeer opspoor. Die vragmotor is teen omstreeks 20:00 naby Mbombela (Nelspruit) opgemerk. AfriForum se Nelspruit-buurtwag is van die ligging van die gekaapte voertuig in kennis gestel waarna die privaat opsporingsdiens Netstar verdere ondersoek ingestel het. Buurtwaglede is ook opdrag gegee om die vragmotor te stop en verdagtes aan te keer indien dit opgemerk word.

Netstar het die vragmotor suksesvol herwin.  

Die vragmotor nadat dit teruggevind is.

Navorsing onderneem deur Tracker, een van grootste voertuigopsporings- en diefstalherwinningsmaatskappye in die land, het Mpumalanga in 2025 as ’n nuwe brandpunt van kapings van veral besigheidsvoertuie en -vragmotors geïdentifiseer.

“Mpumalanga is, vanweë sy ligging teenaan Mosambiek, ’n kwesbare teiken vir kapings en die provinsie se padnetwerk bied ’n ideale ontsnappingsroete vir misdadigers om gesteelde voertuie oor die grens te neem. ’n Groter bewussyn van die provinsie se ‘swakpleke’ wat dit vatbaar en aanloklik maak vir kapings is daarom noodsaaklik sodat proaktief opgetree kan word om hierdie misdaad te bekamp of vinnig hok te slaan wanneer misdadigers toeslaan,” verduidelik Bekker.

Volgens Bekker is die kaping moontlik die werk van ’n sindikaat wat daarop uit is om watertenktenders los te slaan.

“Die gemeenskap en privaat veiligheidsrolspelers se samewerking het ’n kritieke rol in hierdie operasie gespeel om te help toesien dat die gekaapte vragmotor vinnig teruggevind kon word. Die gebruik van tegnologie en die paraatheid van betrokkenes het boonop die deurslag gebied en beklemtoon dat misdadigers nie die oorhand in ons gemeenskap sal kry nie,” sluit hy af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid