Ramaphosa moet rekenskap gee oor vordering met nasionale wateraksieplan, eis AfriForum
AfriForum het in ’n skrywe aan president Cyril Ramaphosa hom versoek om ’n duidelike, meetbare uiteensetting te gee van wat die regering bereik het sedert die nasionale wateraksieplan op 23 Julie bekendgestel is.
Die presidensie het die plan beskryf as ’n gefokusde program van kort-, medium- en langtermyningrypings wat daarop gemik is om die oorsake van Suid-Afrika se waterkrisis aan te pak. Daar is ook gesê dat toegewyde spanne aangewys is om die implementering daarvan te dryf en dat die nasionale waterkrisiskomitee hul vordering sou monitor en verantwoordelike departemente en agentskappe aanspreeklik sou hou vir uitvoering.
Die president het destyds gesê dat onmiddellike ingrypings reeds geïmplementeer word, insluitend noodinfrastruktuurprojekte en het dit benadruk toe hy Dinsdag op parlementêre vrae gereageer het.
“President Ramaphosa het die oorsake van die waterkrisis verduidelik, hy het die plan aangekondig en hy het gesê dat onmiddellike ingrypings reeds geïmplementeer word. Die publiek is nou daarop geregtig om bewyse van hierdie ingrypings te sien,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.
AfriForum versoek die presidensie om onder meer besonderhede te verskaf oor:
- ingrypings wat sedert 23 Julie afgehandel is;
- projekte wat tans geïmplementeer word en die sperdatums daarvan;
- munisipaliteite wat regstreekse ingryping ontvang het;
- water- en sanitasieprojekte wat ingestel of voltooi is;
- optrede teen korrupsie, misdadigheid, diefstal van infrastruktuur en die sogenaamde watertenkwa-mafia;
- gevalle waar gevolgebestuur toegepas is; en
- meetbare 30-, 60- en 90-dae-teikens vir die plan.
AfriForum bevraagteken ook die oënskynlike teenstrydigheid tussen die regering se verbintenis tot onmiddellike ingryping en Ramaphosa se opmerkings tydens die ANC se bekendstelling van sy plaaslike verkiesingsmanifes op 23 Augustus. Tydens die geleentheid het Ramaphosa gesê dat elke ANC-beheerde raad ’n plaaslike manifes en implementeringsplan sou ontwikkel en dat “die werk op die eerste dag ná die verkiesing sal begin”.
“Dit laat ernstige vrae ontstaan oor die regering se verbintenis tot die implementering van die nasionale wateraksieplan. As hierdie plan werklik in die proses van implementering was, is dit belangrik om te weet waarom die party, wat die meerderheid van munisipaliteite in die land bestuur, aanvoer dat belangrike munisipale werk eers ná die verkiesing sal begin,” voeg De Klerk by.
“Dit is nie te sê dat daar sedert 23 Julie geen werk gedoen is nie, maar die vraag bly of die regering meetbare vordering kan wys teenoor die verbintenisse wat hy reeds gemaak het.
“Suid-Afrikaners het nie nog ’n aankondiging oor die waterkrisis nodig nie. Hulle het funksionerende waterinfrastruktuur, betroubare watertoevoer en ’n einde aan rioolbesoedeling nodig. Moenie vir Suid-Afrikaners vertel wat ná die verkiesing sal gebeur nie, wys hulle wat reeds gedoen is.”
AfriForum sal voortgaan om die implementering van die nasionale wateraksieplan te monitor en sal die regering se reaksie beoordeel aan die hand van die verbintenisse en tydlyne wat hy in die openbaar aangekondig het.



