Groot veranderinge in Bethal en Secunda danksy AfriForum-takke
AfriForum se Bethal- en Teks-takke het gedurende Mei vanjaar skouer aan die wiel gesit en verskeie projekte voltooi.
Die BCVO-skool het AfriForum genader om te help met grassny op hulle terrein. Die skool se ingang is ook soos oudergewoonte deur die Bethal-buurtspan netjies gemaak. Die ingang na die BCVO-skool lans die Krielpad is ook oudergewoonte netjies gemaak ná dit meer as ’n jaar gelede deur die skool aangeneem is en deur AfriForum onderhou is.
Die buurtspan het ook begin om die N17-hoofweg skoon te sny. Spesiale aandag is ook geskenk aan die gras oorkant die nuwe Platõ-koffiewinkel. Daar is minstens vier bakkievragte vol takke en gras verwyder sodat dit netjies kan wees voor die winkel se amptelike opening.
Daar is in totaal nege bakkievragte vol vullis en tuinafval verwyder by die tak se onderskeie projekte.
Die tak het ook verskeie slaggate herstel gedurende die maand. Die eerste daarvan was voor Hoërskool Hoogenhout. Daarna is daar afbeweeg na Laerskool H.M. Swart. Die slaggat voor die hek in Clerqstraat is ook herstel. Laerskool H.M. Swart het die teer verskaf en AfriForum het die werk gratis gedoen.
AfriForum het ook gedurende die maand verdere herstelwerk aan Tsibitso Sibanyoni-straat verrig. Die tak het reeds meer as R26 000 se teer gebruik om herstelwerk aan hierdie straat te verrig – R18 400 daarvan is deur ’n gemeenskapslid geborg. AfriForum doen die herstelwerk gratis en het die ekstra teer verskaf.
“Nie eers in die verkiesingsjaar kan die munisipaliteit, of enige politieke party die pas volhou met AfriForum nie. Plakkate op lamppale en T-hemde verskaf inwoners min vreugde. Slegs tasbare verskille maak die dorp beter,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.
In Secunda is daar verdere aandag gegee aan die Eendedampark. Die span het meer as 3.4 hektaar gras gesny in die park, hoofsaaklik by die wal en oorkant Oliver Tambo-weg. Verder is groenstroke in Vaalrivier-, Krokodilrivier-, en Brandspruitstraat skoongesny. Daar is in Mei 16 bakkie- en sleepwavragte vol vullis en gras is verwyder.
“Inwoners is moeg vir die groenstroke wat onnetjies gelos word. Dié stroke word ook deur haweloses gebruik as slaapplek,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak.
Sluit aan en raak betrokke by jou naaste AfriForum-tak, besoek: www.wordlid.co.za.



