AfriForum se Bloem-gemeenskapsveiligheidsentrum hanteer 253 klagtes in Februarie
Altesaam 253 klagtes is in Februarie via AfriForum se Bloemfontein-gemeenskapsveiligheidsentrum (GVS) en die AfriForum911-reaksie-eenheid ontvang en suksesvol hanteer. Hiervan het die reaksie-eenheid op 80 noodroepe gereageer. Bykomend hiertoe het die eenheid ook twee arrestasies help uitvoer, hulp by vier brande verleen en toneelhantering en ondersteuning by tien verskillende motorongelukke gebied.
“AfriForum se GVS-beheerkamer, AfriForum911 se reaksie-eenheid en die buurtwagte bly toegewyd daaraan om die veiligheid van die gemeenskap te verseker. Ons verstrek voortdurend ons samewerking met verskeie veiligheidsrolspelers om daadwerklik teen misdaad op te tree en gemeenskapsveiligheid te bevorder. Lede van die gemeenskap word aangemoedig om by hul plaaslike veiligheidsnetwerke in te skakel sodat misdaad onderdruk kan word en enige verdagte aktiwiteite so spoedig moontlik aangemeld kan word,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder in Bloemfontein.
AfriForum bedank elke vrywilliger en reaksielid wat hul tyd en kundigheid beskikbaar stel om die gemeenskap veiliger te maak.





