| | |

AfriForum eis ingryping teen storting van vullis, karkasse langs Orkney-pad

AfriForum doen ’n beroep op die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit om dringend in te gryp by die volgehoue onwettige storting van vullis en karkasse langs die agterpad na Orkney, by die Ysterspruit-kruising. Hierdie ernstige probleem duur reeds vir ’n geruime tyd voort sonder enige doeltreffende ingryping van die munisipaliteit.

Luidens AfriForum se brief aan die munisipaliteit op 30 April, het die situasie reeds ’n kritieke punt bereik en hou dit ’n ernstige bedreiging vir openbare gesondheid, die omgewing en omliggende landbou-aktiwiteite in. Die storting van huishoudelike afval, bourommel en verrottende karkasse lok ongediertes, versprei siektes en besoedel waterbronne, veral gegewe die nabyheid aan die Ysterspruit.

“Hierdie tipe verval in dienslewering is onaanvaarbaar. Die munisipaliteit het ’n duidelike wetlike verpligting om op te tree, maar versuim om selfs basiese bestuursfunksies uit te voer,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

AfriForum wys daarop dat die voortgesette onwettige storting en die munisipaliteit se versuim om dit op te los, in stryd is met verskeie stukke nasionale wetgewing wat die beskerming van die omgewing en openbare gesondheid vereis. Dit sluit onder meer wetgewing oor omgewingsbestuur, afvalbestuur, waterbeskerming en openbare gesondheid in.

Die organisasie het die munisipaliteit formeel versoek om dringend die terrein te inspekteer en die omvang van die probleem te dokumenteer; om alle afval en karkasse wettig en veilig te verwyder; om oortreders te identifiseer en teen hulle op te tree; en om volhoubare maatreëls in te stel om verdere storting te voorkom.

AfriForum het die munisipaliteit ook 14 werksdae gegee om skriftelik terugvoering te verskaf oor ’n aksieplan en tydraamwerk vir ’n oplossing.

“Gemeenskappe kan nie langer blootgestel word aan gesondheidsrisiko’s en omgewingskade weens munisipale nalatigheid nie. Indien daar nie spoedig opgetree word nie, sal AfriForum verdere stappe oorweeg om die munisipaliteit tot verantwoording te roep,” sê Pretorius.

“Die munisipaliteit het nou die geleentheid om hul tot hierdie nagelate verantwoordelikheid na te kom en die gesondheidsrisiko’s in ons gemeenskappe die hoof te bied,” sê S.W. Scott, AfriForum se takvoorsitter in Klerksdorp.

Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak Scott by 082 806 7484.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf