| | | |

Germiston-tak help gedurende brand by Boksburg-onderneming

AfriForum se Germiston-tak het op Donderdag, 3 September gehelp om ’n brand by Boksburg Cash & Carry in Leeuwpoortstraat, Boksburg, te bekamp.

Die brand is omstreeks 13:40 opgemerk nadat ’n lid van AfriForum se Germiston-tak rook naby sy werkplek in Marketstraat gesien het. Hy het besluit om ondersoek in te stel en het met sy aankoms by die perseel die vlamme waargeneem.

Een brandweerwa was reeds op die toneel en het alles moontlik gedoen om die brand onder beheer te bring. Die brandweerwa het egter direk van ’n ander brand af gekom en het gevolglik nie meer ’n volle tenk water gehad nie.

AfriForum se Germiston-tak het met die brandweerpersoneel gekoördineer om voorraad wat op palette gestoor was, strategies te verwyder. Die doel hiervan was om te voorkom dat die brand verder versprei en om die brandweer se werk te vergemaklik. Die tak het ook hul eie waterkar ingespan om te help om die brand onder beheer te bring.

Brandweerondersteuning en verdere bystand is ook deur die Gauteng First Response Group versoek. Nóg brandweerwaens het binne enkele minute op die toneel aangekom, waarna die brand uiteindelik onder beheer gebring en uiteindelik geblus is.

“Hierdie voorval wys weereens hoe belangrik samewerking tussen gemeenskapslede, nooddienspersoneel, sekuriteitsmaatskappye en organisasies soos AfriForum is. Wanneer almal vinnig reageer en saamwerk, kan waardevolle tyd gewen word en kan groter skade moontlik voorkom word,” sê Elzabe Pretorius, voorsitter van AfriForum se Germiston-tak.

Die Germiston-tak bedank alle rolspelers wat hul ondersteuning en hulp tydens die voorval verleen het, naamlik die Ekurhuleni-brandweer, Fidelity Fire, AAA Sekuriteit, Graphite, Nkosin Sekuriteit en die AfriForum-taklede wat bereid was om te help.

AfriForum se Germiston-tak sal voortgaan om waar moontlik saam met gemeenskappe, nooddienste en ander rolspelers te werk om veiligheid en gereedheid in die gebied te bevorder.

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf