Edenvale-tak en Essentially Edenvale pak deurlopende opruimingsprojek aan



AfriForum se Edenvale-tak het op 24 Oktober , in samewerking met Essentially Edenvale, nóg ’n opruimingsaksie by die brug by Horwood’s Farm op Mainweg, Eastleigh, begin. Hierdie inisiatief vorm deel van ’n groter, deurlopende projek om openbare ruimtes skoon, veilig en toeganklik vir die gemeenskap te hou.
Tydens hierdie opruimingsaksie is die area langs die rivier en stroomlope skoongemaak aangesien dié area gereeld as ’n onwettige stortingsterrein gebruik word. Die onwettige storting het veral toegeneem nadat twee gedeeltes van die heining verwyder is en veroorsaak het dat die gebied makliker toeganklik is en minder streng beheer word.
Lisa Atkins van Essentially Edenvale het gereël dat First Fire die ontbrekende heinings vervang en dat die hek aangepas word. Die aanpassing verseker dat die brandkraan steeds toeganklik bly sodat brandbestrydingspersoneel ’n brandslang daaraan kan koppel wanneer dit nodig is. Dit isn belangrike aspek om te verseker dat die gebied nie net netjieser is nie, maar ook aan noodsaaklike veiligheidsvereistes voldoen.
Volgens Pete Kaminski, verantwoordelik vir die omgewingsake-portefeulje by AfriForum se Edenvale-tak, is hierdie inisiatief ’n voorbeeld van hoe volgehoue gemeenskapsbetrokkenheid ’n tasbare verskil in woonbuurte kan maak.
“Die herstel en instandhouding van ons openbare ruimtes kan nie deur een opruimingsaksie bereik word nie. Dit verg volgehoue betrokkenheid, samewerking en inwoners wat bereid is om verantwoordelikheid vir hul omgewing te aanvaar. Ons is dankbaar vir die samewerking met Essentially Edenvale en almal wat hul tyd en hulpbronne beskikbaar stel om hierdie projek ’n sukses te maak,” sê Kaminski.
Die projek sal oor ’n langer tydperk voortgesit word, aangesien die omvang van die opruimingswerk deurlopende aandag en instandhouding vereis.
AfriForum moedig inwoners aan om aktief by hul gemeenskappe betrokke te raak en saam te werk om openbare ruimtes te beskerm, te verbeter en in stand te hou. Deur volgehoue gemeenskapsbetrokkenheid kan ons help om veiliger, skoner en meer leefbare omgewings vir almal te skep. Besoek www.wordlid.co.za om betrokke te raak.



