Annerie Potgieter van Purpose & Proverbs: ‘Jesus bly die hart!’
Deur Ilze Nieuwoudt
Vir Annerie Potgieter, eienaar van die Christelike skryfbehoefte-handelsmerk Purpose & Proverbs, gaan haar besigheid oor veel meer as net produkte. Waar talle ondernemings begin met die droom van sakke vol geld as die einddoel, is Potgieter se droom soveel dieper. Dit is gesetel in haar geloof en die droom om deur haar onderneming ’n impak vir God te maak. “Ek hoop om mense te inspireer om hul geloof meer deel van hul alledaagse lewe te maak. Ek wil hê mense moet Purpose & Proverbs onthou as ’n besigheid wat oor meer as produkte gegaan het, en dat ons mense aangemoedig het om nader aan God te groei,” maak sy dit duidelik.

Potgieter is een van die top 5-finaliste in vanjaar se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie wat aangebied word deur AfriForum Sakenetwerk. Die wenner van dié nasionale kompetisie word op 11 November in Pretoria aangewys.
Die begin van ‘TYPO vir Jesus’

Purpose & Proverbs het ontstaan uit Potgieter se eie soeke na Bybelindekse. Sy kon egter niks opspoor wat haar smaak pas nie en het daarom uit frustrasie besluit om self ’n plan te maak. “Ek het besluit om my eie te maak, en nadat ander mense ook daarin begin belangstel, het my onderneming heel natuurlik ontstaan. Wat as ’n oplossing vir my eie behoefte ontstaan het, het uiteindelik in ’n besigheid gegroei,” vertel sy.
Hoewel “entrepreneuriese bloed” behoorlik deur Potgieter se are vloei (haar pa het sy eie besigheid gehad en is haar grootste inspirasie), het was dit eers ná sy haar man ontmoet het dat sy die selfvertroue bymekaar geskraap het om uiteindelik haar eie besigheid te begin. “Hy het my aangemoedig om my eie onderneming te begin, en sy ondersteuning en geloof in my het my die motivering en selfvertroue gegee om uiteindelik die groot stap te doen.”
Haar unieke reeks produkte was uit die staanspoor ’n vars bries vir enigeen op soek na keurige Christelike skryfbehoeftes. “Ons maak en verkoop alles van Bybelindekse en joernale tot muur-prints, plakkers en skryfbehoeftes – basies alles met Jesus in die middel van dit alles,” skerts Potgieter oor haar onderneming wat ’n vriendin eens beskryf het as “TYPO vir Jesus”.

Die jong entrepreneur op ’n sakereis saam met God
As jong entrepreneur wat reeds op 21-jarige ouderdom hierdie waagstuk aangepak het, het alles nie uit die staanspoor net rooskleurig verloop nie. “Een van my grootste struikelblokke was my ouderdom,” bieg Potgieter. “Ek was maar 21 toe ek begin het, en ek dink nie almal het my of my besigheid aanvanklik ernstig opgeneem nie. Ek moes leer om in myself en my visie te glo, selfs wanneer ander nie het nie. Deur harde werk en deursettingsvermoë het ek mettertyd bewys dat ouderdom nie jou potensiaal bepaal nie.”
Met tyd het wysheid gekom, en vir Potgieter het haar sakereis saam met God die wysheid gebring waarna talle ander entrepreneurs, met veel meer jare se ervaring, nog smag. Sy deel haar grootste lesse en verklap daarmee ook iets oor haar verhouding met God wat as’t ware aan die stuur van Purpose & Proverbs staan: “Ek het geleer dat ek tot baie meer in staat is as wat ek ooit gedink het. Dat ek sterker is as wat ek besef, maar ook dat ek nie alles self hoef te doen nie. Ek het veral geleer om meer op God te vertrou – selfs wanneer ek nie weet wat die volgende stap gaan wees nie.”
Intussen pak Potgieter hierdie kreatiewe reis met mening en verantwoordelikheid. “Ek is iemand wat van nature graag kanse waag en nuwe dinge probeer, maar ek het met tyd geleer dat jy nie net opgewonde kan wees oor ’n geleentheid nie, jy moet ook na die syfers kyk. Ek probeer altyd die moontlike risiko’s opweeg teen die geleenthede en soms moet jy maar net die sprong vat en vertrou dat jy alles langs die pad sal uitfigure!”
En terwyl sy hierdie nuwe geleenthede najaag, maak sy ook deurlopend seker dat dié nuwe idees nog by die doel van haar besigheid pas. “Ons wil groei en relevant bly, sonder om te vergeet hoekom ons in die eerste plek begin het,” hou sy vol. “Jesus bly die hart van ons besigheid, maak nie saak hoeveel dinge rondom ons verander nie.”
Besoek gerus Purpose & Proverbs se aanlyn winkel hier, of besoek die onderneming se Facebook- of Instagram-profiel vir meer nuus oor markte en ander handelaars waarby Purpose & Proverbs-produkte beskikbaar is.



