Daadwerklike implementering van Nasionale Landelike Veiligheidstrategie teen plaasaanvalle topprioriteit, sê AfriForum
Die implementering van die Nasionale Landelike Veiligheidstrategie (NLVS) en die fokus op verbeterde reaksietye en sigbare polisiëring is in beginsel ’n stap in die regte rigting om plaasaanvalle en -moorde in die land te bekamp. Só sê AfriForum in reaksie op prof. Firoz Cachalia, die waarnemende minister van Polisie, se erkenning dat plaasaanvalle ’n ernstige probleem is wat doelgerigte optrede vereis. Volgens die burgerregteorganisasie is dit egter van kardinale belang dat hierdie strategie nie bloot op papier bestaan nie, maar daadwerklik en konsekwent op voetsoolvlak toegepas word. Die realiteit bly dat landelike gemeenskappe steeds grootliks op hulself aangewese is vir hul veiligheid, juis weens die beperkte kapasiteit en stadige reaksietye van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in baie gebiede.
Cachalia se erkenning oor die erns van plaasaanvalle in die land volg ná ’n onlangse vraag in die parlement oor watter konkrete operasionele maatreëls die SAPD ingestel het om veral reaksietye in landelike gebiede te verbeter en sigbare polisiëring in boerderygemeenskappe te versterk.
“Hoewel dit bemoedigend is dat die minister die erns van plaasaanvalle erken, sal geen strategie werklik slaag sonder daadwerklike samewerking met burgerlike veiligheidstrukture nie. Plaaswagte en buurtwagte is reeds op voetsoolvlak aktief en dien as die oë en ore van gemeenskappe – dit is noodsaaklik dat die staat hande vat met hierdie strukture en hulle as volwaardige vennote in landelike veiligheid erken,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.
Die organisasie doen ’n beroep op die ministerie en die SAPD om:
- samewerking met burgerlike veiligheidstrukture verder te formaliseer en uit te bou;
- bestaande plaaswagte en buurtwagte as noodsaaklike vennote in landelike veiligheid te erken;
- hulpbronne en ondersteuning beskikbaar te stel om hierdie strukture se doeltreffendheid te verhoog; en
- te verseker dat intelligensie- en inligtingsdeling tussen die SAPD en gemeenskappe werklik funksioneel is.
Hoewel die minister se erkenning van die erns van plaasaanvalle verwelkom word, is dit nou tyd vir konkrete optrede wat ’n tasbare verskil in landelike veiligheid sal maak. AfriForum bly verbind tot samewerking met wetstoepassingsagentskappe, maar sal ook voortgaan om gemeenskappe te ondersteun om hulself te beveilig waar die staat tekort skiet.



