| | |

AfriForum beplan vooruit; Overstrand-tak rig noodwaterpunt by laerskool op

Die Overstrand-tak het op 26 Februarie ’n belangrike stap geneem om plaaslike ramp gereedheid te versterk deur die oprigting van ’n noodwaterpunt by Laerskool Gansbaai.

Hierdie inisiatief vorm deel van die tak se voortgesette fokus op gemeenskapsveiligheid en proaktiewe beplanning om inwoners tydens krisissituasies by te staan. Die noodwaterpunt is strategies by die skool geplaas aangesien dit sentraal geleë, maklik toeganklik en ’n bekende bymekaarkomplek in die gemeenskap is.

Die noodwaterpunt is spesifiek ingerig om die breër gemeenskap te dien in geval van wateronderbrekings, natuurrampe, brande of enige ander noodtoestand waar toegang tot skoon water beperk mag wees, soos wat Gansbaai juis gedurende die feesseisoen ervaar het. Deur vooraf infrastruktuur daar te stel, kan vinniger en meer doeltreffend opgetree word wanneer ’n krisis ontstaan.

Die gebruik van die skool se terrein as ’n noodpunt vir water plaas klem op die belangrike rol wat opvoedkundige instellings in gemeenskapsweerbaarheid speel. In noodtoestande kan die skoolterrein as ’n veilige en georganiseerde verspreidingspunt funksioneer waar hulpbronne gekoördineer en versprei word.

Marique van Dalen, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, Fanie Coetzee, voorsitter van AfriForum se Overstrand-tak, en Riaan Booysen, AfriForum se veiligheidsvoorsitter van die Overstrand-buurtwagte, het die noodwaterpunt amptelik aan Maresa de Villiers, die skoolhoof, oorhandig.

Volgens die takbestuur is hierdie projek ’n voorbeeld van hoe samewerking tussen gemeenskapsorganisasies en plaaslike instellings ’n tasbare verskil kan maak. “Ons glo daaraan om nie net te reageer wanneer ’n ramp plaasvind nie, maar om vooruit te beplan en infrastruktuur te skep wat ons gemeenskap kan beskerm. Hierdie noodwaterpunt is ’n belegging in die veiligheid en welstand van Gansbaai se inwoners,” sê Van Dalen.

Die Overstrand-tak bedank die skoolhoof en beheerliggaam vir hul samewerking en bereidwilligheid om hul fasiliteite beskikbaar te stel. Hierdie vennootskap dra by tot ’n sterker gemeenskap wat in tye van nood saamstaan.

Die tak moedig inwoners aan om verantwoordelik met die waterpunt om te gaan.

Raak vandag betrokke by jou naaste AfriForum-takke. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf