Christiana-tak woeker om dorp skoon te maak
Die AfriForum-tak in Christiana het van 17 Februarie tot 23 Februarie hard gewerk om verskeie dele van die dorp skoon te maak. Dié tak het saam met die plaaslike AfriForum Jeug-lede gespan om gras te sny en vullis op verskeie plekke in die dorp op te tel.
Daar is gras gesny, bome gesnoei en vullis verwyder op die hoeke van Best- en Dirkie Uys-, Eeufees en Presidentstraat, asook die hoeke van President- en Pretorius-, Diamant- en Christianastraat.
Die tak het 20 swartsakke vol vullis verwyder deur die loop van hierdie skoonmaakaksie.
Volgens Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland, is die straathoeke wat toegegroei is ’n veiligheidsrisiko aangesien dit sigbaarheid belemmer en die risiko vir ongelukke verhoog.
“AfriForum se Christiana-tak werk hard daaraan om ’n beter omgewing vir al die inwoners van hierdie gemeenskap te skep. Een waarop elkeen kan trots wees. Om gras te sny help hiermee en dit verhoog veiligheid aangesien misdadigers ook makliker in die lang gras kan wegkruip. Die tak sal aanhou om te werk om die dorp te verbeter,” Nel.
Die AfriForum- en AfriForum Jeug-tak in Christiana beplan om verskeie aksies en projekte aan te pak deur die loop van die jaar en wil graag die gemeenskap uitnooi om by hierdie projekte betrokke te raak. Besoek www.wordlid.co.za om betrokke te raak.







