| | |

AfriForum bevraagteken Mahlobo se Japan-besoek, kundigheid op eie bodem moet aangewend word om waterkrisis op te los

Klankgreep: Lambert de Klerk (Afrikaans)
Klankgreep: Lambert de Klerk (Engels)

AfriForum bevraagteken die Departement van Water en Sanitasie se redes vir hul besoek aan Japan wat deur David Mahlobo, adjunkminister van Water en Sanitasie, gelei word. Dié besoek word voorgehou as ’n inisiatief om kapasiteit te bou en vaardighede oor te dra ten einde die lewering van water- en sanitasiedienste te versterk. AfriForum meen dat internasionale samewerking waardevol kan wees, maar dat opleiding en tegniese ondersteuning vir hierdie funksies deur bestaande instellings in die land gedryf moet word.

Volgens die organisasie is die Waternavorsingskommissie en ander plaaslike kundigheidsentrums gemagtig en befonds om navorsingsondersteuning, opleidingsprogramme en operasionele waterbestuursoplossings op eie bodem te bevorder.

AfriForum sal ook ’n versoek rig vir die volledige openbaring van die totale koste van hierdie besoek, insluitend vlugte, verblyf, toelaes en die grootte van die afvaardiging. Die organisasie versoek voorts ook ’n uitsetting van die meetbare uitkomste wat die regering beweer uit hierdie besoek sal voortspruit, en tydlyne vir die uitvoering daarvan.

“Die land het nie ’n tekort aan bekwame ingenieurs, hidroloë, tegnici en munisipale waterpraktisyns nie. Wat wel ontbreek, is beslissende bestuur, instandhouding en verantwoordbaarheid,” sê Lambert de Klerk, bestuurder vir Omgewingsake by AfriForum.

AfriForum twyfel of hierdie besoek noodwendig onmiddellike verbetering sal teweegbring vir gemeenskappe wat gebuk gaan onder wateronderbrekings, en of die hulpbronne nie eerder beter bestee kon word aan die herstel van infrastruktuur en die versterking van implementeringskapasiteit op munisipale vlak nie.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf