| | |

Verkeersligte in Oos-Rand bly kopseer vir inwoners

AfriForum doen ’n beroep op die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit om dringend werk te maak daarvan om verkeersligte in verskeie dele van die Oos-Rand te herstel. Sommige verkeersligte is al vir langer as ses maande buite werking.

AfriForum het in November verlede jaar ’n opname onder inwoners van Oos-Rand gedoen om te bepaal wat die impak van dié verkeersligte is. Daar het 396 respondente aan die opname deelgeneem en die uitslae is aan Lehlohonolo Gomo, hoof van die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se Departement vir Paaie en Vervoerbestuur. Die respondente het vanuit Alberton, Benoni, Birchleigh, Boksburg, Brakpan, Clayville, Geduld, Kempton Park, Springs, Edenvale, Germiston, Tembisa en Vosloorus aan die opname deelgeneem.

Die respondente moes onder meer aandui of hulle oor die afgelope 12 maande foutiewe verkeersligte teëgekom het, of hulle veiligheid in gevaar gestel is as gevolg van hierdie verkeersligte en of hulle in ’n botsing was as gevolg van verkeersligte wat nie gewerk het nie. Op die laaste vraag het 82,24% aangedui dat hulle ’n botsing net-net vrygespring het by een van hierdie verkeersligte terwyl 30,87% wel weens hierdie verkeersligte in botsings betrokke was.

Hoewel 64,52% van respondente hierdie verkeersligte by die metro aangemeld het, is slegs 4,56% van hierdie klagtes suksesvol opgelos.

Volgens Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, dui hierdie syfers op infrastruktuur wat verval en ’n fundamentele tekort aan vermoë en aanspreeklikheid van die metro se kant af om die omvang van hierdie probleem ernstig op te neem.

“Hierdie kwessie kort onmiddellike optrede van die Ekurhuleni-metro af. Ons versoek ook dat daar duidelikheid gegee word oor die stappe wat gedoen gaan word om die verkeersligte oor die metro heen te herstel en in stand te hou,” sluit Olckers af.

Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf