|

Brits-buurtwag toets paraatheid met simulasie van plaasaanval

AfriForum se Brits-buurtwag het die afgelope naweek sy gebeurlikheidsplan ingeoefen deur ’n plaasaanval in die landelike gebied van Krokodildrift-Wes net buite Brits te simuleer. Altesaam 22 lede het aan die oefening deelgeneem, terwyl twee honde ingespan is om die spoor van die verdagtes te volg. Die doel van die oefening was om die buurtwag se paraatheid en reaksievermoë tydens ’n moontlike plaasaanval te toets en verder te verbeter.

“Gebeurlikheidsinoefeninge is noodsaaklik om seker te maak dat rolspelers voorbereid is vir werklike noodsituasies. Hierdie tipe oefeninge help om reaksieplanne te toets, kommunikasie te verbeter en swakpunte betyds uit te wys voordat ’n werklike aanval plaasvind. Die waarde lê juis daarin dat daar uit foute geleer word sodat spanne meer effektief kan optree wanneer elke sekonde tel,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

“Elke lid se bydrae speel ’n belangrike rol om hierdie buurtwag in staat te stel om die gemeenskap by te staan wanneer noodsituasies ontstaan. Die samewerking en toewyding wat tydens die oefening gewys is, is iets waarop die gemeenskap trots kan wees,” sê Stephan Roos, veiligheidsvoorsitter van AfriForum se Brits-tak.

Na afloop van die oefening is nabetragting gedoen waar positiewe sowel as negatiewe punte bespreek is. Die doel hiervan is om lesse uit die inoefening te identifiseer en voortdurend die buurtwag se vermoë om vinnig en doeltreffend op te tree, te verbeter.

Skakel Stephan Roos by 073 188 3223 om by AfriForum se Brits-buurtwag betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf