Water
| |

AfriForum eis antwoorde oor Viljoenskroon en Ramulotsi se waterkrisis

AfriForum het Woensdag ’n dringende skrywe aan die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit gerig waarin duidelikheid geëis word nadat inwoners van Viljoenskroon en Ramulotsi reeds vyf dae lank sonder water is.

Die waterkrisis is na bewering veroorsaak deur die munisipaliteit se versuim om brandstof te voorsien om personeel na die waterwerke buite die dorp te vervoer, sodat water gepomp kan word. Dit blyk verder dat die kontrakteur wat verantwoordelik is vir die bedryf van die waterwerke se kontrak nie hernu is nie.

“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners sonder ’n basiese diens soos water gelaat word weens swak beplanning en administratiewe versuim. Hierdie situasie dui op ’n ernstige agteruitgang in die munisipaliteit se vermoë om sy grondwetlike pligte na te kom,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

AfriForum het die munisipaliteit versoek om dringend duidelikheid te verskaf oor onder meer waarom daar nie voorsiening gemaak is vir brandstof nie; waarom die kontrakteur se kontrak nie hernu is nie; of die kontrakteur ten volle betaal is; watter stappe gedoen word om die waterkrisis op te los; en wanneer inwoners kan verwag dat die watertoevoer herstel sal word.

Ingevolge artikel 27 van die Grondwet het elke persoon die reg op toegang tot voldoende water, terwyl munisipaliteite ingevolge artikel 152 verplig is om basiese dienste op ’n volhoubare wyse te lewer. AfriForum het die munisipaliteit 48 uur gegee om op die skrywe te reageer en waarsku dat verdere stappe oorweeg sal word indien geen bevredigende terugvoer ontvang word nie.

“Die inwoners sukkel regtig baie, veral mense met klein kinders en kinders wat moet skool toe gaan. Die gemeenskap stel hulle boorgate beskikbaar en inwoners ry water met tenks aan, maar veral die mense in Ramulotsi moet baie ver loop met emmers om te gaan water haal, soms selfs in Viljoenskroon.  Gemeenskappe kan nie langer die gevolge van wanbestuur dra nie. AfriForum sal voortgaan om druk toe te pas totdat verantwoordbaarheid en dienslewering herstel word,” sê Attie Barnard, AfriForum se takvoorsitter van Viljoenskroon.

Om by die AfriForum-tak in Viljoenskroon betrokke te raak, kontak Barnard by 082 557 1428. Om by AfriForum se Viljoenskroon-buurtwag betrokke te raak, kontak Herman Smit by 072 127 2250.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf