AfriForum teken beswaar aan teen Matlosana se begrotingsproses
Die AfriForum-tak in Klerksdorp het formeel beswaar aangeteken teen die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit se begrotingsproses vir die 2026/2027–2028/2029-boekjare weens die wesenlike onreëlmatighede tydens die proses. Die burgerregteorganisasie eis dat die munisipaliteit dadelik dié proses oorbegin aangesien die huidige openbare deelnameproses regtens in stryd is met die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFMA) en die Wet op Munisipale Stelsels.
Alhoewel ’n 21-dae-tydperk vir openbare deelname in ’n advertensie gedateer 10 April aangekondig is, was kritieke dokumente wat verband hou met begrotings en die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) nie op die munisipale webwerf beskikbaar nie. Dit kon boonop ook nie op versoek by plaaslike biblioteke of die kantoor van die speaker verkry word nie.
AfriForum verwys verder na raadsbesluit CC 87/2025, item 5, paragraaf (d), wat in Mei 2025 aanvaar is, wat die uitvoerende burgemeester spesifiek opdrag gee om skriftelik terugvoer te verskaf op voorleggings wat tydens die vorige begrotingsproses deur die publiek en belanghebbendes gemaak is. Volgens AfriForum was hierdie besluit daarop gemik om uitvoering te gee aan artikel 23 van die MFMA, wat vereis dat munisipaliteite openbare insette behoorlik oorweeg en in gesprek tree met belanghebbendes tydens die opstel van begrotings. Tot op hede is geen sodanige skriftelike terugvoer verskaf nie.
“Die munisipaliteit het die gemeenskap se reg op betekenisvolle openbare deelname in werklikheid gekompromitteer. Deur kritieke strategiese planne en finansiële syfers terug te hou, word belanghebbendes verhinder om ’n deeglike evaluering te doen of ingeligte voorleggings te maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
AfriForum is van mening dat die blote verlenging van die kommentaartydperk onvoldoende is om grondwetlike regte te beskerm. Die organisasie eis formeel dat die huidige proses tersyde gestel en van vooraf begin word om te verseker dat die 2026/2027-begroting en GOP-dokumente wettiglik ter tafel gelê en vir alle inwoners toeganklik gemaak word.
“Die volgehoue versuim om hierdie skriftelike terugvoer te verskaf, is nie bloot ’n administratiewe oorsig nie; dit is ’n direkte minagting van die publiek se reg om aan die begrotingsproses deel te neem. Hierdie gebrek aan aanspreeklikheid ondermyn die toesighoudende rol van die raad en erodeer die vertroue van belanghebbendes wat moeite gedoen het om met die munisipaliteit in gesprek te tree,” sê S.W. Scott, AfriForum se takvoorsitter in Klerksdorp.
AfriForum bly daartoe verbind om die grondwetlike regte van sy lede te beskerm en te verseker dat openbare deelname ’n wesenlike hoeksteen van plaaslike demokrasie bly.
Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak gerus vir SW Scott by 082 806 7484.



