Boomplantmaand: AfriForum se Keimoes-tak plant 144 bome en plante vir ’n groener Kalahari
AfriForum se Keimoes-tak het in samewerking met verskeie skole, kerke en gemeenskapslede gedurende Boomplantmaand – wat die organisasie in September aangebied het – 144 bome en vetplante aan plaaslike instansies en gemeenskapslede geskenk en geplant.
Dié inisiatief was daarop gemik om nie net bome te laat plant nie, maar ook om kinders en gemeenskapslede bewus te maak van die belangrikheid van verantwoordelike omgewingsbewaring en die versorging van die natuur.
Twintig olienhout- en witkareebome en ’n aantal vetplante is op 15 September aan die Neilersdrift Intermediêre Skool geskenk, terwyl 24 bome dieselfde dag ook aan Hoërskool Keimoes geskenk is. Op 16 September is 20 bome ook aan die Loxtonvale-gemeenskap, wes van Keimoes, geskenk, terwyl 30 bome en ’n aantal vetplante op 18 September aan die Soverby-gemeenskap, noordoos van Keimoes, oorhandig is.
Tydens die besoeke aan die skole het Dirk Malan, bestuurslid van AfriForum se Keimoes-tak, ’n aanbieding oor die belangrikheid van bome en plante gedoen. Hy het verduidelik dat die mens, volgens die Bybel, die aarde ontvang het om te versorg en verantwoordelik daarmee om te gaan.
Leerders is tydens dié aanbiedings ook aan verskillende boom-, struik- en vetplantspesies bekendgestel. Daar is onder meer verduidelik dat Suid-Afrika ongeveer 155 spesies aalwyne en drie spesies kokerbome het. Die olienhout (Olea europaea subspesie africana) is ook aan die kinders uitgewys as 2026 se Boom van die Jaar.
As deel van die praktiese opleiding is aan die kinders gewys hoe ’n eenvoudige 2 liter-plastiekbottel gebruik kan word om ’n jong boom stadig en doelgerig van water te voorsien. Dié opleiding het derhalwe nie net gefokus op die plant van bome nie, maar ook op die verantwoordelikheid om dit daarna te versorg.

Die Boomplantmaand-aksie het op 24 September voortgegaan. Die AGS Kerk Keimoes, onder leiding van pastoor Cor Ettwein, het 18 bome ontvang, terwyl die NG Kerk Keimoes/Neilersdrift dieselfde dag nege bome en die Rooms-Katolieke Kerk Keimoes se Vrouebond ook drie bome ontvang het.
Benewens dié skenkings is 20 bome ook aan belangstellende inwoners van Keimoes geskenk.
“Boomplantmaand gaan oor soveel meer as net die plant van ’n boom. Dit gaan oor verantwoordelikheid, rentmeesterskap en om vir die volgende geslag ’n beter omgewing na te laat,” sê Malan. “Wanneer ’n kind leer hoe om ’n boom te plant én te versorg, plant ons eintlik ook ’n saad van verantwoordelikheid vir die toekoms.”
AfriForum se Keimoes-tak bedank al die skole, kerke, organisasies en gemeenskapslede wat aan die inisiatief deelgeneem het en saamgewerk het om Boomplantmaand prakties en sigbaar in die gemeenskap te maak.



