|

Kragverbruikers kan nie verder Eskom se spaarvarkie vul, sê AfriForum

Deidré Steffens (Afrikaans)

Eskom se aankondiging dat hy ’n wins van R30,3 miljard vir die 2025/2026-boekjaar aangeteken het, tesame met elektrisiteitspryse wat oor die jare die hoogte ingeskiet het, bewys opnuut dat verbruikers gebruik word om die kragvoorsiener se sakke te vul. AfriForum sê dis tyd dat Eskom ophou om bykomende inkomstes na te jaag en eerder sy verbeterde finansiële posisie in daadwerklike verligting omskep vir verbruikers wat reeds jare lank onder beurtkrag en stygende elektrisiteitskoste gebuk gaan.

Deidré Steffens (AfriForum), Morné Mostert (AfriForum) en Amos Mboweni (Eskom).

AfriForum het vandag ’n protesaksie by Eskom se hoofkantoor gehou om die toenemende openbare frustrasie oor buitensporige elektrisiteitstariewe, wanbestuur en die voortdurende finansiële las op verbruikers te benadruk.

AfriForum het ’n spaarvarkie aan Amos Mboweni, algemene bestuurder by Eskom, oorhandig, tesame met ’n memorandum waarin vyf belangrike besware teen die kragvoorsiener se finansiële besluite en pryspraktyke uiteengesit is. Die memorandum verteenwoordig die belange van AfriForum se meer as 300 000 lede en die 750 Suid-Afrikaners wat die organisasie se petisie teen stygende elektrisiteitstariewe onderteken het.

“Suid-Afrikaners word gedwing om hul sente te tel, op basiese benodighede te bespaar en hul lewenstandaarde prys te gee bloot om die ligte aan te hou. Intussen spog Eskom met miljarde rande se wins en gaan hy voort om sy bestuur met bonusse te beloon. Daar kan nie van gewone verbruikers verwag word om onbepaald as Eskom se finansiële veiligheidsnet te dien nie,” sê Deidré Steffens, adviseur vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

’n Kernkwessie wat in die memorandum geopper word, is die voortslepende regsgeskil tussen AfriForum, Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) oor ongeveer R58 miljard se bykomende toegelate inkomste. AfriForum bevraagteken waarom Eskom steeds miljarde rande meer van kragverbruikers wil verhaal terwyl die kragvoorsiener aansienlike winste aangeteken het en bonusse aan sy bestuur uitbetaal.

Die memorandum beklemtoon ook die enorme koste-oorskrydings by die Medupi- en Kusile-kragstasies, Eskom se voortgesette afhanklikheid van verouderende infrastruktuur en die gebrek aan voldoende sekerheid oor die langtermynbekostigbaarheid van elektrisiteit. AfriForum bevraagteken verder die moontlike vaste elektrisiteitsheffings wat sekere sonkraggebruikers in die gesig staar, van wie baie reeds aansienlike bedrae in alternatiewe energiebronne belê het ná jare van onbetroubare kragvoorsiening.

“Verbruikers het reeds ’n enorme prys vir Eskom se mislukkings betaal. Hulle moes beurtkrag verduur, hul eie geld aan alternatiewe kragoplossings bestee en daar word steeds van hulle verwag om meer te betaal. Eskom moet verduidelik wanneer sy finansiële herstel die mense gaan bevoordeel wat uiteindelik sy rekeninge betaal,” sê Steffens.

AfriForum het Eskom formeel versoek om omvattende skriftelike antwoorde op elk van die vyf eise in die memorandum te verskaf. Dit sluit verduidelikings in oor Eskom se finansiële prestasie, die bykomende R58 miljard se inkomste, bestuursbonusse, projekkoste-oorskrydings, langtermyninfrastruktuurbeplanning en vaste heffings vir sonkraggebruikers.

“Verbruikers se finansiële hulpbronne is nie onuitputlik nie en Eskom moet vir al sy finansiële besluite aanspreeklik gehou word. Daarom sê AfriForum: Eskom, gaan soek vir jou ’n ander spaarvarkie,” sluit Steffens af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik