Water, kraan, kraanwater
|

Herstelplan nodig vir die 44% van water wat Tshwane-metro verloor, sê AfriForum

Marais de Vaal (Afrikaans)

AfriForum het vandag nóg ’n brief aan Johann Mettler, munisipale bestuurder van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit, gestuur waarin die burgerregteorganisasie ’n volledige en tydige plan eis om die metro se waterlekkasies, gebrekkige waterinfrastruktuur en buitensporige waterverliese aan te pak. Die brief volg op AfriForum se herhaalde oproepe aan die metro om die voortslepende krisis te pak om nog watertekorte, soos dié wat onlangs groot dele van Pretoria-Oos getref het, in die toekoms te vermy.

Volgens die jongste beskikbare data op die Departement van Water en Sanitasie se Platform for a Water Secure Gauteng gaan 35% van die metro se grootmaatwater verlore sonder dat enige gebruiker dit benut. Dit is as gevolg van ’n kombinasie van lekkasies, gebarste pype en reservoirs wat oorloop. Die gestelde teiken vir hierdie sogenaamde werklike verliese is 15%. Indien waterdiefstal deur onwettige aansluitings en die onderaantekening van verbruik as gevolg van foutiewe watermeters ook in aanmerking geneem word, kom die totale waterverliese op 43,8% te staan.

Oor die afgelope maand het mediaberigte minstens 17 beduidende waterlekkasies, gebarste pype en verwante infrastruktuurprobleme in die Tshwane-metro geïdentifiseer. Dit sluit ’n gebarste 1 000 mm-waterpyp naby die Pretoria-treinstasie in, asook ’n lekkasie op ’n 700 mm-hoofwaterpyplyn in Equestria en ’n groot pypbreuk in Waverley.

“Dit is onaanvaarbaar dat inwoners telkens gevra word om minder water te gebruik terwyl die metro self enorme hoeveelhede water deur gebrekkige infrastruktuur en instandhouding verloor. Inwoners kan hul krane toedraai, maar dit is slegs die Tshwane-metro wat die gebarste pype kan herstel en die infrastruktuur behoorlik instandhou,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.

AfriForum eis nou dat die metro die volledige besonderhede van uitstaande lekkasies verskaf, asook hersteltydlyne en onderhoudsbegrotings. Die burgerregteorganisasie verwag ook ’n meetbare plan om verouderde pype en ander infrastruktuur te vervang om waterverliese stelselmatig te verminder.

“Om watertoevoer te beperk is nie ’n volhoubare oplossing vir infrastruktuur wat verouder nie. Die metro moet verduidelik waarom soveel water verlore gaan, waarom herstelwerk sloer en presies wanneer inwoners daadwerklike verbeterings kan verwag. Verbruikers soek nie nóg beloftes nie, maar ’n duidelike plan met begrotings, verantwoordelike amptenare en sperdatums,” sê De Vaal.

Klik hier om lekkasies in Gauteng aan te meld.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf