| |

Meer as 60 ‘besigheidsbytjies’ van Pretoria ontdek die wonderwêreld van entrepreneurskap

AfriForum se Besigheidsbytjies-projek het op 29 September in Centurion 62 leerders van verskeie skole oor die hele Pretoria die kans gegee om hul idees in werklike produkte te omskep en self te ervaar wat dit verg om ’n entrepreneur te wees.

Die kinders het tydens die praktiese en prettige werkswinkel kennis gemaak met die basiese beginsels van besigheid en onder meer geleer hoe om ’n eenvoudige besigheidsplan op te stel. Hulle moes nadink oor die produk wat hulle wil verkoop, hul teikenmark identifiseer en bepaal hoe die produk aan moontlike kliënte bemark sou word.

Die dag was egter nie net beperk tot papier en planne nie, verduidelik Mari-Louise Erasmus, Gemeenskapsforum-koördineerder by AfriForum.

“Die jong entrepreneurs kon uit drie verskillende kreatiewe produkte kies, terwyl Johan Furstenberg van G1 Outentieke Leer, Zané Bekker en haar ma, Leonie, van Something Nice, en Marnell Dickson van Jabezz Arts hulle deur die onderskeie produksieprosesse begelei het,” sê Erasmus.

Saam met Furstenberg kon die jong Besigheidsbytjies leer in beursies, sleutelhouers en armbande omskep. Onder Bekker se leiding is hulle gewys hoe ’n eenvoudige kolwyntjie met ’n bietjie kreatiwiteit en die regte tegnieke in iets besonders kan verander. En saam met Dickson is die jong entrepreneurs bekendgestel aan die wonder van hars en die wyse waarop kleur, vorm en verbeelding saam ’n unieke produk kan skep.

Die laaste uitdaging  van die dag was om hul produk ’n naam te gee, dit aantreklik te  verpak en te bemark.

Met kreatiwiteit en groot entoesiasme het die Besigheidsbytjies hul produkte mooi gemaak en hul eie bemarkingsidees ontwikkel. Só het hulle eerstehands ervaar dat entrepreneurskap nie bloot daaroor gaan om iets te verkoop nie, maar oor ’n idee, harde werk, kreatiwiteit, deursettingsvermoë en die vermoë om waarde vir iemand anders te skep.

“’n Goeie besigheidsidee begin dikwels met iets kleins – ’n behoefte wat jy raaksien, ’n probleem waarvoor jy ’n oplossing kan uitdink of sommer net ’n idee wat jou belangstelling prikkel. Met Besigheidsbytjies wil ons daardie vonkie by kinders aansteek en hulle wys dat ’n idee nie net in jou kop hoef te bly nie. Met ’n plan, ’n bietjie kreatiwiteit en die wil om dit aan te pak, kan dit ’n produk word wat jy met trots in jou hande kan vashou,” sluit Erasmus af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf