AfriForum stig konfederale raad vir beter samewerking onder Suid-Kaapse takke
Die Eden Konfederale Raad (EKR) is die afgelope naweek op die been gebring om beter samewerking en die uitruil van kundigheid tussen vier takke in die Suid-Kaap te bevorder. Die takke in Knysna, Mosselbaai, George en Oudtshoorn sal voortaan toegang kry tot ’n groter poel hulpbronne oor dorpsgrense heen om so nog meer vir hul gemeenskappe te doen.
Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap, stel baie positiewe dinge in die vooruitsig met die stigting van dié nuwe raad. “Elke tak is steeds verantwoordelik om in sy eie streek te woeker, maar kry deur die raad toegang tot ’n groter, gedeelde operasionele vermoë. Ons hoop dat die onderskeie takke nou nog meer tot hul gemeenskappe sal kan bydra.”
Die Knysna-buurtspan, wat reeds soms buite die dorp se grense projekte aangepak het, sal nou tussen die vier takke diens doen. Die EKR sal hierdie span befonds en bestuur.
“Dié buurtspan sal nou op streeksvlak funksioneer en ’n beplande program van projekte aanpak. AfriForum het oor die jare heen reeds baie deur middel van vrywilligers vermag en die doel van die buurtspan is nie om dit wat vrywilligers doen oor te neem nie, maar eerder om hul hande sterker te maak om meer gedoen te kry,” sê Erasmus.
Wat doen die buurtspan reeds in 2026?
Die Knysna-buurtspan is in Oktober 2025 op die been gebring en het reeds baie gedoen om die dorp ’n skoner en veiliger plek te maak om te woon. Daar is in 2026 reeds meer as 13 ton teer aangewend om slaggate in dié Suid-Kaapse dorp te herstel en daar is in net een skoonmaakaksie nagenoeg 5 ton vullis weggery. Daarbenewens verf die span dikwels padmerkers oor, sny gras, maak parke netjies en herwin.
Ons het die behoefte in Knysna gesien om te herwin.
“Ons het die behoefte in Knysna gesien om te herwin. Die oorlaaistasie in die dorp sukkel om voor te bly en dit is veral ondernemings in die direkte omgewing wat amper daagliks met die stank moet saamleef. AfriForum het besluit om die probleem te pak en te help om soveel moontlik herwinbare items na ’n herwinningsonderneming te herlei voor dit nog by die oorlaaistasie beland,” verduidelik Erasmus.
Die Knysna-tak se herwinningsprojek het weliswaar klein begin, maar met gereelde vragte wat gery word en meer en meer kliënte wat vir die diens ingeteken het, is daar reeds meer as 10 ton herwinbare materiaal by die plaaslike herwinningsonderneming afgelaai.
Kyk hierdie video om meer oor AfriForum se herwinningsprojek in Knysna uit te vind. Lees later in die week meer oor die personeel wat deel vorm van dié dinamiese buurtspan.



