Alberton-tak sê die stryd aan teen misdaad met nuwe veiligheidsinisiatief
AfriForum se Alberton-tak het, in samewerking met Hi-Zone Security Services, lisensieherkenningskameras (LPR-kameras) by hoërisiko areas opgerig om proaktiewe, tegnologiegedrewe misdaadvoorkoming te bevorder. Dié projek is reeds in 2025 begin en is onlangs afgehandel.
Volgens Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, ervaar Alberton ’n hoë volume geweldsmisdaad en georganiseerde voertuigverwante misdade. Dit blyk uit onlangse voorvalle van skietery, rooftogte en hoëspoed jaagtogte dat misdaadnetwerke gebruik maak van verskeie deurgangsroetes naamlik Swartkoppies, Heidelbergweg, Kliprivier, die R59- en die N12-hoofroetse om misdaad te pleeg of terug te keer na hul onderskeie areas toe.
Olckers meen dat LPR-kameras ’n belangrike hulpmiddel is om hierdie misdaadgolf te stuit. “Dit neem slegs ’n breukdeel van ’n sekonde vir hierdie kameras om nommerplate te lees en die gesteelde of verdagte voertuie dan te identifiseer om sodoende belangrike bewyse aan die plaaslike polisie en sekuriteitsmaatskappye te verskaf.”
Die LPR-kameras speel ’n belangrike rol in die bekamping van misdaad aangesien dit as ’n afskrikmiddel vir misdadigers dien; vinnige opsporing en arrestasie van misdadigers moontlik te maak en om misdaad-brandpunte doeltreffend te moniteer.
“Die LPR-kameras stel veiligheidstrukture in staat om te sien watter voertuie in en uit Alberton beweeg en dié voertuie te moniteer. Dit maak dit ook meer doeltreffend om vinnig op te tree indien hierdie voertuie by misdadige aktiwiteit betrokke was of gesoek word in verband met ander misdade,” sê Christopher Trevarthen, AfriForum se buurtwagleier in Alberton.
AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van Alberton, plaaslike buurtwagte, sekuriteitsmaatskappye en plaaslike owerhede om saam met die organisasie te werk om ’n netwerk van LPR-kameras by hoofingange, woonbuurte en sakegebiede in Alberton te installeer.
“Dit is vir ons belangrik om op hoogte te bly van tegnologie soos die LPR-kameras sodat ons kan help om misdaad te voorkom en die gemeenskap kan beveilig,” sê Clifford Smith, AfriForum se takvoorsitter in Alberton.
Gideon Geyser, direkteur van Hi-Zone Security Services, voeg by dat dit vir dié maatskappy wat in Alberton gesetel is, belangrik is om saam met plaaslike rolspelers te werk om die gemeenskap te beveilig.
Besoek www.wordlid.co.za om by jou naaste tak aan te sluit en ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.



