AfriForum-opknappings maak Dr. W.K. du Plessis Skool veiliger
AfriForum se Springs-tak het op 16 Junie hande gevat met die gemeenskap, buurtwaglede en personeel van Dr. W.K. du Plessis Skool om die skoolterrein op te knap en die veiligheid van leerders en personeel te verbeter.
Dr. W.K. du Plessis Skool is ’n loopbaangerigte skool wat gespesialiseerde onderrig van ’n hoë akademiese gehalte bied aan leerders met epilepsie en leerprobleme. Hoewel die skool en koshuise onlangs opgeknap is, het die bouwerk ongelukkig groot hoeveelhede rommel en ongelyke terrein agtergelaat. Groot klippe, staal en ander boumateriaal is op die terrein agtergelaat, wat die omgewing onnet en potensieel gevaarlik gemaak het. Dis toe dat AfriForum genader is om ondersteuning te bied, waarna die Springs-tak en -buurtwag betrokke geraak het by verskeie herstel- en skoonmaakprojekte op die skoolterrein.
Buurtwaglede het in Mei vanjaar al gehelp om die gebied buite die skool, wat aan ’n oop veld grens, skoon te maak deur bosse en riete te verwyder wat die uitsig belemmer het. Dit volg na ’n inbraak by die koshuis toe verdagtes oor die heining geklim het. Tydens hierdie voorval is twee heiningpanele verwyder. Buurtwaglede het reeds die volgende dag saam met gemeenskapslede en die skool die beskadigde heining te herstel. Hierdie voorval het egter lig daarop gewerp dat die toegangspunt en omliggende gebiede dig begroei was, wat sigbaarheid en veiligheid benadeel het.
Die terrein rondom die koshuise het egter steeds verdere aandag benodig. Buurtwaglede, gemeenskapslede en personeel van die skool het dus op 16 Junie weer saamgespan om gras te sny, bosse terug te snoei en die terrein deeglik skoon te maak. Die projek het nie net die voorkoms van die terrein verbeter nie, maar ook bygedra tot ’n veiliger omgewing vir die leerders en personeel.
AfriForum se Springs-buurtwag doen boonop voortdurend patrollies in en om die skool om te help verseker dat leerders, onderwysers en personeel veilig bly.
“Hierdie projek is ’n uitstekende voorbeeld van wat bereik kan word wanneer ’n gemeenskap saamwerk om ’n verskil te maak. Ons is dankbaar vir elke vrywilliger, buurtwaglid en personeellid wat hul tyd afgestaan het om die skoolterrein te verbeter en veiliger te maak. Die veiligheid en welstand van ons kinders bly vir ons ’n prioriteit,” sê Petro Kirton, voorsitter van AfriForum se Springs-tak.



