| |

NUUSKOMMENTAAR: Padwoede: ’n Kortpad na tragedie

Deur Chanté Kelder

Sondae is die dag waarop ons veronderstel is om te rus en te herlaai vir die week wat voorlê. Vir twee minderjarige kinders het die afgelope Sondag egter in ’n bloedbad ontaard toe hul pa in ’n beweerde padwoedevoorval in Emmerentia, Johannesburg, voor hul oë doodgeskiet is.

Die 58-jarige vermeende skieter is Maandag in hegtenis geneem en sou Dinsdag op aanklagte van moord en poging tot moord in die Johannesburgse Landdroshof verskyn het. Hy is egter intussen vrygelaat ná die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aangedui het dat hulle hom nie op hierdie stadium gaan vervolg nie. Dié man, wie se naam weens veiligheidsredes nog nie bekendgemaak is nie, se regsverteenwoordiger het luidens mediaberigte aangevoer dat sy kliënt uit selfverdediging opgetree het.  

In nóg ’n padwoedevoorval wat in Februarie vanjaar by ’n vulstasie in KwaZulu-Natal plaasgevind het, het ’n woedende motoris herhaaldelik in trurat teen ’n ander voertuig gebots waarna hy van die toneel gevlug het. Hoewel hierdie voorval nie noodlottig was nie kan só ’n situasie vinnig eskaleer.

’n Rubriek oor die voorkoms van padwoede op Suid-Afrikaanse paaie wat vandeesweek in die Sowetan verskyn het, verskaf skokkende inligting oor die omvang van dié verskynsel. Daarvolgens het die Automobiel-Assosiasie (AA) bevind dat padwoedevoorvalle nie net meer gewelddadig word nie, maar dat die jonger generasie veral skuldig staan met nagenoeg 47% van alle voorvalle wat gepleeg word deur motoriste tussen die ouderdom van 18 en 25 jaar. Daarbenewens is bevind dat sowat 48% van bestuurders wat aan die AA se studie deelgeneem het, aangevoer het dat hulle ten tyde van padwoedevoorvalle kinders by hulle in die voertuig gehad het.

Padwoede is egter nie net op eie bodem ’n toenemende probleem nie. Vandeesweek is ’n man in die Amerikaanse deelstaat Florida in hegtenis geneem ná hy op 16 April ’n FedEx-koerier tot by sy werksplek agtervolg en doodgeskiet het. Die man het die koerier, Nathaniel Padgett, daarvan beskuldig dat hy in sy voertuig vasgery het. 

Die rol van vuurwapens in hierdie insidente kan nie geringskat word nie, maar dit verduidelik nie waarom sommige skynbaar nietige insidente só vinnig gewelddadig raak en op ’n tragedie uitloop nie. Almal ervaar bepaalde stres in hul daaglikse lewe, hetsy dit is oor geld, werk of dit wat tans in die wêreld aangaan. As daar nie behoorlik uiting gegee word aan hierdie stres nie, is dit soos die spreekwoordelike stoompot wat druk opbou en opbou, en dan skielik die deksel deur die dak skiet.

Die anonimiteit wat ons voertuie skep, dra ook daartoe by dat ons op ’n wyse optree wat buite ons gewone gedragspatrone val. Dit is makliker om op die toeter te lê, onvanpaste handgebare rond te slinger of ’n paar kragwoorde te laat val. Ons kan nie beheer wat ander mense op die pad doen nie, maar ons kan kies hoe ons daarop reageer. Dit is altyd belangrik om te onthou dat jy in beheer is van jou eie emosies en jou eie gedrag.

Haal diep asem en tel tot tien is met rede gewilde raad – want dit werk! Wanneer ons vir ’n oomblik stil raak en kennis neem van die emosies wat ons self ervaar, is dit makliker om kalm te reageer wanneer ons in ’n plofbare situasie kom. Onthou dat daar aan beide kante frustrasie is en dat dit nie help om aggressie met aggressie te beantwoord nie. Probeer eerder om so vinnig as moontlik die situasie te deëskaleer.

Jare gelede was ek in ’n ongeluk. Ek was geïrriteerd en kon vinnig vir die vrou wat voor my ingery het, ’n ding of twee vertel. Toe ek egter uit die kar klim, sien ek dat dié arme vrou net so groot geskrik het soos ek. Haar dogtertjie was boonop saam met haar in die voertuig. My ingesteldheid het dadelik verander. Eerder as om haar die leviete voor te lees, het ek haar gevra of sy of haar dogter seergekry het. Daarna kon ons gemoedelik gesels oor die ongeluk en die pad vorentoe.

Dit is maklik om kop te verloor in hierdie situasies, maar ons moet onthou dat die koste daarvan baie hoog kan wees. Dit vat meer van ons om koelkop te bly, die situasie te ontlont en gewelddadige optrede te vermy, maar dit is duidelik dat dít deesdae die verskil tussen lewe en dood kan beteken.   

Soortgelyke plasings

Veiligheid