AfriForum wens morena e moholo Montoeli Mota geluk met sy 50ste verjaarsdag en herbevestig samewerking met Batlokoa Ba Mota
AfriForum wens morena e moholo (hoof- tradisionele leier) Montoeli Mota, morena e moholo van die Batlokoa Ba Mota van Tsheseng, suid van Phuthaditjhaba in die Vrystaat, vandag geluk met sy 50ste verjaarsdag. Die organisasie herbevestig ook vandag, as deel van sy gelukwensing aan morena e moholo Mota met dié mylpaal, sy verbintenis tot samewerking met die Batlokoa Ba Mota-kultuurgemeenskap.
Morena e moholo Mota se verjaarsdag is op ’n kleurryke wyse gevier tydens vanjaar se Batlokwa-kultuurweek wat in die laaste week van September aangebied is. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het tydens die gala-aand op 25 September ’n gelukwensing aan morena e moholo Mota oorgedra en ook die volgende dag, tydens die hoogtepunt van die Batlokwa-erfenisfeesvieringe, ’n boodskap van vriendskap en samewerking aan die Batlokwa-volk oorgedra.
Die verskillende Batlokwa-gemeenskappe en hul koninklike leiers wat hulself georganiseer het binne die Federasie van Batlokwa Rade, het die kultuurweek bygewoon. Dié Federasie dien as ’n stem ter ondersteuning van die ontwikkeling en beskerming van die kulturele identiteit van die Batlokwa-volk wat oor suidelike Afrika versprei is.
Kriel wens morena e moholo Mota ’n geseënde en voorspoedige nuwe lewensjaar toe. “Dit is ons bede dat dit met hom en sy gemeenskap in die jare wat voorlê, goed sal gaan. Dit was ’n groot voorreg om ’n hand van vriendskap, op die grondslag van wedersydse erkenning en respek, na die Batlokwa-gemeenskappe van oor die hele suidelike Afrika uit te reik. Ons is dankbaar dat die Here vir ons hande aan die einde van ons arms gegee het om te bou aan die toekoms wat ons graag vir ons kinders wil hê. Daar is verskille tussen kultuurgemeenskappe, maar ons kies om saam te werk aan sake waaroor ons saamstem om sodoende ’n positiewe impak op voetsoolvlak te maak. Dit is juis wanneer verskillende kultuurgemeenskappe saamwerk dat wedersydse begrip en vertroue gebou word,” benadruk Kriel.

Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum, verduidelik dat goeie verhoudings en samewerking tussen verskillende kultuurgemeenskappe ’n voorwaarde vir die voorspoedige en vreedsame voortbestaan van al die verskillende volke aan die suidpunt van Afrika is. “Ons is dankbaar vir die hand van vriendskap wat die Federasie van Batlokwa Rade na AfriForum uitgereik het. Dit is genade dat ons naas vriende ook broers en susters in Christus is – dit is ’n voorreg wat ons nie as vanselfsprekend aanvaar nie,” sê Uys.
AfriForum, die Nasionale Huis van Tradisionele en Khoi-San-leiers (NHTKL) en die kantoor van morena e moholo Mota het in 2025 saamgewerk om ’n sonaangedrewe waterstelsel, wat betroubare watervoorsiening aan die kantore van die Batlokoa Ba Mota Tradisionele Raad en die plaaslike groentetuin verseker, in werking te stel. Dit het gevolg nadat die NHTKL leiding geneem het in die smee van die geskiedkundige vennootskap as deel van die eerste jaarlikse Lenaka-gedenklesing wat teen die einde van 2024 by Manthatisi Hoërskool in Tsheseng gehou is. AfriForum en die Batlokoa Ba Mota het ook in 2025 ’n wedersydse erkennings- en samewerkingsooreenkoms gesluit.



